Soos algemeen te wagte was, het die Monetêre Beleidskomitee (MBK) van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) op 18 September besluit (met ’n 4- teen 2-stemming) om vir eers sy rentekoersverlagingingsiklus te staak.
In sy kommentaar op die besluit sê prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, dat die MBK die risiko’s rondom die inflasievooruitsig as gebalanseerd beskou het, en dat inflasie nou eers onder bedwang is.
“Hulle voorspel dat wesensinflasie in 2025 op ’n gemiddelde van 3,4% te staan sal kom, met kerninflasie rondom 3%. Op die groeifront het die MBK sy 2025-voorspelling van die bruto binnelandse produk (BBP) vanaf 0,9% tot 1,2% aangepas. Hulle waarsku dat daar in die toekoms ’n baie beter vlak van vastekapitaalvorming as sleutelaandrywer vir ’n gesonde groeikoers nodig is.”
Prof Parsons sê in die lig van die oorkoepelende balans van risiko’s wat die Suid-Afrikaanse ekonomie nou in die gesig staar, was die minderheidsiening van die MBK nietemin reg om ’n verdere verlaging van 25 basispunte (bps) in rentekoerse te verkies.
“Positiewe magte wat hierdie siening onderskryf, sluit faktore in soos dat die gemiddelde inflasie vir 2025 nou nader aan 3% is, dat daar laer inflasionêre verwagtings is, dat daar ’n gemakliker monetêre beleid van die Verenigde State is, dat die rand sterker is, en dat daar geen bewyse van vraaginflasie is nie.”
Hy sê hoewel die besluit op grond van die data beskikbaar na enige kant toe kon swaai, die minderheidsiening van die MBK, wat wil hê dat die rentekoersiklusverlaging moet voortduur, die beste besluit was.
“Dit lyk dus of die omsigtige standpunt van die meerderheid van die MBK se begeerte om die rentekoers vir langer hoër te hou eerder aan die verkose laer inflasiemikpunt van 3% gekoppel kan word. Daar is egter steeds onseker omstandighede rondom die beweging na die SARB se verkose laer inflasiemikpunt van 3%.”
Prof Parsons sê die SARB het ook weer eens bevestig dat groei op die kort termyn opgeoffer kan word om die voordele van sy 3%-mikpunt op die langer termyn te bereik.
“’n Vorige gesamentlike verklaring van die SARB-Nasionale Tesourie op 1 September het aangedui dat die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, en die SARB ‘nog oor enige veranderinge in die mikpunt moet saamstem’. Die Adjunk-minister van Finansies, David Masondo, het op 15 September vir ’n beleggingskonferensie vertel dat ‘die bestaande 3% tot 6% mikpunt steeds bestaan en dat enige besluit om dit te verander, nie sommerso geneem moet word nie’.”
Prof Parsons verduidelik dat hoewel daar wye ondersteuning is dat ’n laer inflasiemikpunt vir Suid-Afrika nou ondersoek moet word, dit nietemin nog nie heeltemal duidelik is of die nodige politieke ondersteuning en instemming verkry is om die inflasiemikpunt te verander nie.
Hy sê die toekomstige vlak van leenkoste is ’n deurslaggewende gebied van besluitneming vir die ekonomie, waarvoor daar ’n uitgeklaarde amptelike inflasiemikpuntraamwerk nodig is as daar beleidsekerheid moet wees.
“Hoe gouer dit besluit word, hoe beter,” sluit hy af.