Mense los probleme op en maak antropologie die regte plek om te wees

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se vakgroep Antropologie gaan van krag tot krag, en is van voorneme om die NWU een van die topuniversiteite te maak waar daar op hierdie gebied gestudeer kan word. “Met die besef dat die ingewikkelde probleme van ons samelewing net deur middel van mense opgelos kan word, het die vakgroep met ’n proses van herkurrikulering begin wat aan baanbrekernavorsing gekoppel is, en dit sal spoedig uitgebrei word,” sê dr Jess Auerbach, wat onlangs by die vakgroep in die Skool vir Sosiale Wetenskappe aangesluit het.

Dr Auerbach is ’n Suid-Afrikaanse Rhodes-beurshouer met ’n PhD van Stanford Universiteit in die Verenigde State van Amerika. Sedert sy in Julie by die NWU aangesluit het, het sy nou met kollegas saamgewerk om ’n kultuur van navorsing en kennisproduksie te konsolideer.

Benewens om weer te kyk na die kursus vir Antropologie van Film en Media om op die sosiale studie van wetenskap en tegnologieë te fokus, het sy en ’n voormalige student, wat nou by Edinburgh Universiteit is, “Awake, Engage” van stapel gestuur.

Dit is ’n tweeweeklikse e-pos wat daarop gemik is om NWU-studente se horisonne te verbreed en digitale geletterdheid, betrokkenheid by wêreldwye vakkundigheid en ’n bewustheid van Pan-Afrika-sake onder alle studente, veral voorgraadse studente, aan te moedig. Enigeen wat wil aansluit, kan dit hier doen.

Nagraadse studente is die middelpunt van die Skool vir Sosiale Wetenskappe

“Die Skool vir Sosiale Wetenskappe streef daarna om nagraadse studente by die skool se intellektuele lewe betrokke te kry, en Antropologie neem die leiding in hierdie strewe,” voeg dr Auerbach by.

“Alle MA-studente het vanaf hierdie semester die geleentheid om aanbiedings tydens die weeklikse nagraadse navorsingswebinaar-reeks te doen, waar hulle in aanraking kom met eweknieë van ander instellings, insluitende Cambridge Universiteit, die Londense Skool vir Ekonomie en die Universiteit Van Kaapstad.”

Hierdie webinare het tot dusver gaste van so ver weg as Burkina Faso, Indië, Mauritius en Angola ingesluit. Vir dr Auerbach en haar kollegas is die suid-suid-samewerking wat stewig in Afrika gegrond is van kritieke belang.

“Ons moet weet wie ons is, en met vertroue van hier af werk,” sê sy, en voeg by dat die multikampuswerklikheid van die universiteit interessante uitdagings en geleenthede meebring.

“Wat my ook opgewonde maak oor die NWU is dat die universiteit met sy veelvuldige kampusse reeds gewoond is daaraan om in spanne oor verskillende ruimtes heen te werk. Ons is goed geposisioneer om vinnig by ons nuwe realiteit aan te pas, en ek het waardering daarvoor dat die instelling baie meer buigsaam, aanpasbaar en responsief is as talle ander.

“’n Deel van wat gemaak het dat ek in die middel van die Covid-19-krisis by die NWU aangesluit het, is ook die sorgsaamheidsetiek wat teenoor studente openbaar word – veral in die Fakulteit Geesteswetenskappe en die Skool vir Sosiale Wetenskappe. Dit is so belangrik as ons ernstig is oor sukses in hoër onderwys in die 21ste eeu, wat amper meer as enige ander faktor deur goeie geestesgesondheid en digitale geletterdheid bepaal sal word,” voeg sy by.

Voorgraadse onderrig is van kritieke belang, maar navorsing is ook belangrik

“Ek was gelukkig om by ’n vakgroep en navorsingseenheid aan te sluit waar ernstige, internasionaal relevante werk gewaardeer word, en waar elke persoon die ruimte het om ’n unieke bydrae te lewer,” sê dr Auerbach.

“Dit is seldsaam om so ’n gees van kollegialiteit – wat eerder samewerkend as mededingend is – onder ’n groep eweknieë te kry. Ek dink waar dit in plek is, sal dit moontlik wees om iets te bou wat uitstaan in die landskap van die Suid-Afrikaanse hoër onderwys en ek is baie opgewonde oor wat vir ons departement voorlê.”

 


Dr Jess Auerbach het onlangs by die NWU se vakgroep Antropologie aangesluit en is passievol oor navorsing. Haar boek, From Water to Wine: Becoming Middle Class in Angola, is onlangs gepubliseer en is hier beskikbaar.

 

Submitted on Wed, 10/21/2020 - 14:50