Maatskaplike werk: die beroep waar aksie en deernis mekaar ontmoet

Maart is die Wêreldmaand vir Maatskaplike Werk en in hierdie tyd is die kollig nie net op die beroep gefokus nie, maar ook op die belangrike bydraes wat hierdie dapper professionele persone in die samelewing lewer.

Die bewustheidsveldtog het op 20 Maart 2018 ’n hoogtepunt bereik toe professionele maatskaplike werkers maatskaplike werk-dag gevier het. Volgens prof Ansie Fouché en dr Elmien Truter, albei dosente in Maatskaplike Werk aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Gesondheidswetenskappe op die kampus in Vanderbijlpark, is dit belangrik om professionele maatskaplike werkers te vereer deurdat die harde werklikheid waaraan hulle op ’n daaglikse basis blootgestel word, asook die druk van die hoë verwagtings wat hulle moet hanteer, raakgesien en waardeer word.

Hierdie twee kundiges, wat ook produktiewe navorsers in die Optentia-navorsingsfokusarea is, verduidelik die posisie van maatskaplike werkers in die Suid-Afrikaanse konteks:

Wanneer dinge op hulle uitdagendste is, is dit gewoonlik die maatskaplike werker wat versoek word om in te gryp en orde in die chaos te skep. Maatskaplike werkers in Suid-Afrika het deur wetgewing ’n mandaat om weerlose kinders, gesinne en gemeenskappe te beskerm, en word in verskillende praktykopsette in diens geneem, soos onder andere vir kinder- en gesinsorg, die versorging van bejaardes, die hantering van middelmisbruik, en in die korrektiewe dienste. In die lig van die hoë voorkoms van maatskaplike probleme in Suid-Afrika is dit ongetwyfeld so dat maatskaplike werkers belangrike aksiegroepe is om positiewe verandering te bewerkstellig.    

Die doel van die beroep van maatskaplike werk is om ondersteuning aan individue, gesinne en gemeenskappe te verleen deur hulle sosiale funksionering te verbeter en op hierdie manier dus hulle vermoë om hulle lewens op ’n aanpasbare en gesonde manier te leef. Deur hulle taak uit te voer, loop maatskaplike werkers dikwels die risiko om aan depressie, uitbranding en buitengewone hoë stresvlakke blootgestel te word as gevolg van moeilike werksomstandighede, wat insluit dat hulle met mense werk wat dikwels gewelddadig is, en dat hulle in ongunstige werkstoestande werk wat dikwels gekenmerk word deur bestuur wat nie ondersteunend is nie, dat hulle swak salarisse ontvang, ’n nypende tekort aan hulpbronne het, met professionele regslui te doen kry terwyl hulle hulle pligte uitvoer, en nie respek van die meeste mense in die samelewing geniet nie.

Meer oor die 2018 Wêreldmaand vir Maatskaplike Werk

Gedurende die Wêreldmaand vir Maatskaplike Werk word professionele maatskaplike werkers vereer vir hulle toewyding, passie en vasberadenheid om Suid-Afrika se weerlose kinders, gesinne en ouer persone onder moeilike en uitdagende omstandighede te help beskerm en te beveilig.

Volgens die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensberoepe (SARMD) bevorder die vakgebied van maatskaplike werk maatskaplike verandering en ontwikkeling, sosiale samehorigheid en die bemagtiging en bevryding van mense. Die beginsels van maatskaplike geregtigheid, menseregte, kollektiewe verantwoordelikheid en respek vir diversiteit is die kern van maatskaplike werk.

In die lig hiervan word maatskaplike werkers geloof omdat hulle ’n stem is vir diegene wat nie vir hulleself kan praat nie, en dat hulle hoop bring waar ellendige toestande heers.

Submitted on Wed, 04/18/2018 - 12:36