Lucy Twani: Neem die voortou by netbalspelerontwikkeling

Spelerontwikkeling: dit is deel van die kern van netbal by die Noordwes-Universiteit (NWU), en as daar ’n meer entoesiastiese voorstander hiervan is as Lucy Twani, gaan jy ver moet soek.

Lucy is die hoëprestasie-netbalafrigter vir die junior spanne by die Potchefstroomkampus, en dit is as gevolg van hierdie 27-jarige se toewyding om netbaltalent op te diep en te ontwikkel dat die NWU een van dié netbalkerns in die land is.

Die welsprekende, spitsvondige Lucy is in Gqeberha (voorheen Port Elizabeth) gebore en het die Oos-Kaap haar tuiste genoem totdat die geleentheid om afrigting by die NWU te doen, oor haar pad gekom het.

Dit was by die NWU waar sy haar plekkie gevind het.

“Ek het so baie geleer van wat jy moet doen om jou spelers te ontwikkel om hulle op ’n hoëprestasievlak te kry. Die ontwikkeling van die speler gaan ook nie net oor wat jy op die baan doen nie – dit vereis ’n meer holistiese benadering. Dit gaan oor hulle persoonlike groei, hulle professionele groei en selfs sosiale aspekte van hulle ontwikkeling. Dit gaan oor baie meer as bloot oor netbal,” verduidelik sy.

Een van die fundamentele doelwitte van NWU Netbal is die identifikasie en ontwikkeling van talent in landelike gemeenskappe.

“Ek dink netbal is ’n sport wat baie inklusief is. Netbal Suid-Afrika (NSA) praat daaroor om netbal na die mense terug te neem, dus is dit vir ons as universiteit belangrik om daardie ruimtes te betree. Talle van daardie leerders is soms nie eers bevoorreg genoeg om te weet dat hulle na ’n universiteit toe kan gaan nie. Dit is dus vir ons belangrik om na hulle toe uit te reik en hulle by die stelsel in te sluit om seker te maak dat dieselfde geleenthede vir hulle moontlik is. Om spelers in sogenaamde kleiner skole te identifiseer en hulle na ’n hoëprestasievlak te neem, is iets waarop ek dink ons as ’n universiteit regtig trots kan wees,” sê sy, en voeg by: “Ons was deel van talle gemeenskapsbetrokkenheidsinisiatiewe waar ons netbalklinieke hou en ons was selfs na skole toe wat nie eers netbalbane het nie. Ons nooi hierdie meisies na ons geriewe toe en hou kontaksessies waar ons ons spelers gebruik om hulle af te rig en met hulle te gesels. Dit is een van die maniere waarop ons ons vaardighede met hulle deel.”

Sy kan dalk duisende kilometer van haar geboorteplek af wees, maar Nolusindiso Lucy Twani is tuis.

“Die NWU onderskryf my persoonlike waardes. Dit beteken dat ons ’n familie is en vir mekaar speel. Dit beteken ook dat ons na mekaar omsien, maak nie saak wat nie.”

En dit omdat die heersende ingesteldheid by NWU Netbal dié van “spanwerk en toewyding is en dat ons mekaar deur dik en dun bystaan”.

As die NWU se oorwinnings op netbalbane ’n barometer van die sukses van hierdie filosofie is, sal dit mense aanspoor om hierdie filosofie hulle eie te maak.

....

Submitted on Fri, 08/18/2023 - 12:21