Lewendige debat tydens die vierde jaarlikse NWU-leierskapsberaad

As aktiewe burgers van Suid-Afrika moet elkeen van ons praat oor die ernstige gebrek aan behoorlike leierskap.

Die uitdagings wat die land in die gesig staar – soos werkloosheid, misdaad, gender-gebaseerde ongelykhede, onvoldoende infrastruktuur en kwessies wat op grondhervorming betrekking het – kan slegs hanteer word wanneer leiers voldoende toegerus is om in komplekse en uiteenlopende omgewings beheer te neem.

Dit was die toon van debatvoering tydens die vierde jaarlikse leierskapsberaad van die Noordwes-Universiteit (NWU), wat onlangs by die Birchwood Hotel in Johannesburg plaasgevind het. ’n Indrukwekkende lys hoofsprekers het hulle insigte oor leierskap en hulle ervarings in die leierskapsarena gedeel. Hierdie sprekers het ingesluit: prof Linda du Plessis (NWU Adjunk-Visekanselier: Beplanning en Vanderbijlparkkampusbedrywighede), prof Rolf Stumpf (Voorsitter: Stadio Holdings (Edms) Bpk), mnr Brand Pretorius (afgetrede HUB: McCarthy), me Duduzile Mkhwanazi (HUB: Project Isizwe), me Dorette Visser (Direkteur: Golden Key, Suid-Afrika), raadslid Bongani Baloyi (Uitvoerende Burgemeester: Midvaal) en me Adéle Croucamp (Besturende Direkteur: ACConsulting).

Verskillende definisies van leierskap en verwante eienskappe is bespreek, en alle sprekers het saamgestem dat alles – of dit nou in die privaat of burgerlike samelewing is – staan of val met leierskap. Nie net is leierskap by strategie betrokke nie, dit ontsluit ook menslike potensiaal, optimaliseer betrokkenheid en bied ’n mededingingsvoordeel.

Toe die grondslag van ware leierskap gelê moes word, is die volgende eienskappe gelys:

  • As jy nie jouself kan lei nie, kan jy nie ander lei nie.

 

  • ’n Ware leier se ingesteldheid is dat leierskap nie ’n reg is nie, maar ’n verantwoordelikheid.

 

  • Leierskap is nie gelyk aan mag of gesag nie, maar eerder aan diens en toewyding.

 

  • Daar is ’n grondliggende verskil tussen lei en bestuur.

 

  • Etiese leierskap is ’n voorvereiste vir doeltreffende leierskap.

 

  • Ware leiers het die vermoë om visie in realiteit om te skakel.

 

  • Leiers werk met die geldeenheid van hoop.

 

  • ’n Leier is iemand wat uit sy mislukkings leer, en wat weet dat ’n fout nie die begin van die einde is nie, maar eerder die begin van ’n nuwe geleentheid.

 

Die belangrikheid van leierskapsbemagtiging is ook bespreek, terwyl die impak van toegang tot tegnologie, inligting en leierskapsgeleentheid ook na vore gekom het. In haar toespraak het Duduzile Mkhwanazi gepraat oor die gebrek aan konnektiwiteit, en hoe hoë datapryse en onvoldoende internetinfrastruktuur tot die land se stadige ekonomiese groei bydra. Sy het verduidelik dat die keuse tussen 1 gig data vir R149 en kos op die tafel vir die meeste Suid-Afrikaners ’n verskriklike werklikheid bly.

Die kern van die dag se besprekings is perfek opgesom deur Adéle Croucamp, wat gesê het: “As Suid-Afrikaners moet ons beter doen! Die wêreld mag vir julle oop lê, maar julle moet eienaarskap van julle eie verhaal neem!”

Prof Dan Kgwadi, Visekanselier van die Noordwes-Universiteit, het die beraad met ’n verwelkomingsrede geopen.

Me Duduzile Mkhwanazi en prof Rolf Stumpf. 

Me Dorette Visser, rdl Bongani Baloyi en me Adéle Croucamp.

Prof Dan Kgwadi, prof Linda du Plessis en mnr Brand Pretorius.

Submitted on Fri, 10/12/2018 - 12:31