Kriptogeldeenhede: ’n suksesverhaal?

Dit wil voorkom of die wêreld van bitcoin hier is om te bly, ten spyte van talle voorspellings dat dit enige oomblik in duie gaan stort. Elon Musk het oor die naweek beweer dat met ’n keuse tussen kriptogeldeenhede en fiatgeldeenhede soos die dollar, euro en die jen, sy voorkeur vir eersgenoemde is. Bitcoin, die grootste van ten minste 4 000 kriptogeldeenhede, het sy debuut in 2009 gemaak.  In Februarie 2011 kon een bitcoin vir $1 (R7,04) gekoop word, en as jy dit nog steeds op 21 Mei 2021 gehad het, sou dit $40 532,20 (R568 108,14) werd gewees het. Dit word egter, ten minste uit ’n beleggingsperspektief, steeds as ’n hoogs spekulatiewe keuse beskou. Die toekoms van kripto is omstrede, selfs aanvegbaar, en die Besigheidskool by die Noordwes-Universiteit (NWU) het ’n Think Tank opdrag gegee om die debat te evalueer.

Volgens Albert van Zyl, ’n senior lektor by die NWU Besigheidskool en ’n kundige in korporatiewe beheer en die beheer van korrupsie, toon kriptobates, en in besonder die verwante bedrywe en tegnologiese toepassings wat besig is om te ontwikkel, baie potensiaal.  Dit word duidelik beaam deur Fred Ehrsam, medestigter van Cionbase, wat getwiet het: “… kripto begin nou eers.  Ons is 1% binne-in die belangrikste tegnologie van die dekades wat voorlê. Kripto gaan geld en inligting – die twee fundamentele wyses waarop die wêreld koördineer – herdefinieer.”

“Kriptogeldeenhede, meer bepaald die tegnologie waarop dit gebou is, naamlik blokketting (blockchain), is een van die ontwrigtendste tegnologieë van ons tyd. Dit is nie verrassend dat dit mense soos Elon Musk gelok het nie. Amper almal het kennis geneem toe Musk – deur Tesla – vroeg in 2021 op die bitcoin-wa gespring het.  Bitcoin het in een dag met 16% gestyg. Hierdie gebeurtenis het groot klandisiewaarde vir bitcoin gebring, wat deur die notering van Coinbase op die Nasdaq versterk is,” sê Van Zyl.

Coinbase, wat een van die grootste kriptogeldeenheidbeurse in die wêreld is wat die langste bestaan, het op 1 April 2021 die eerste groot kriptobesigheid geword wat ná goedkeuring deur die VSA SEC op die Nasdaq genoteer is.  Dit het verdere geloofwaardigheid aan die bedryf gegee.  Coinbase het oombliklik ’n finansiële reus op Wall Street geword en sy eerste dag van verhandeling op $328,28 afgesluit, met die waarde van die maatskappy op $85,7 miljard. In perspektief gesien – die markwaarde van Goldman Sachs is $120 miljard.  Coinbase het egter in sy finansiële prospektus gewaarsku dat sy besigheidsprestasie nou verbind is aan die prys van kriptogeldeenhede, wat onbestendig is.  

Hierdie waarskuwing was in die kol. Toe Musk op 12 Mei 2021 getwiet het dat Tesla bitcoin-aankope gaan opskort as gevolg van besware wat geopper word oor die verhoogde gebruik van fossielbrandstof met die munt van bitcoin, het dit ’n beduidende daling in bitcoin veroorsaak.  Coinbase het op 20 Mei 2021 teen $224,80 verhandel.  Nietemin, die New York Times het die notering van Coinbase ’n “mylpaaloomblik” vir bitcoin en die hele kriptogeldeenheidbedryf genoem. Hierdie notering het aan tradisionele beleggers, wat dalk in digitale geldeenhede belangstel maar dit nie direk kan koop nie of onwillig is om dit te doen, en ook aan hoofstroomindeksfondse indirekte blootstelling gegee om in die kriptomark in te koop.

Van Zyl voeg by dat kriptogeldeenhede al hoe meer in alternatiewe markte soos rekenaar-gaming en verwante “tweedelewe”- of virtuelewêreldtoepassings aangewend word.  “Dit is hier waar hierdie algehele nuwe mark en moontlikhede vir entrepreneurskap en ekonomiese ontwikkeling moontlik opwindende geleenthede kan skep, veral vir die werklose jeug in Suid-Afrika.  Terwyl die tradisionele formele ekonomie nie daarin slaag om geleenthede vir die jeug te skep nie, het hierdie nuwe mark dalk ’n antwoord.  Ironies genoeg lyk dit of die jeug baie beter daarin slaag om kriptogeldeenhede en hulle verwante toepassings en bedrywighede daarvan die toekoms in te neem.          

Vergeleke met fiatgeldeenhede was bitcoin se markkapitalisering op 14 Mei 2021 in die 17de plek – meer as dié van die Russiese roebel, of die Meksikaanse peso. Ethereum was in die 27ste plek en die Suid-Afrikaanse rand in die 33ste plek,” sê Van Zyl.

Die munt van bitcoin gebruik elektrisiteit, en betrek groot rekenaarberekenings om transaksies te verifieer.  Dit verhoog die risiko wat met koolstofvrystellings verband hou.  ’n Ontleding deur Cambridge Universiteit se Centre for Alternative Finance in Februarie het beraam dat die munt van bitcoin jaarliks meer elektrisiteit as die hele Argentinië, Nederland of die Verenigde Arabiese Emirate gebruik. Dit het gelei tot kritiek op die vervaardiger van die elektriese motor, Tesla, se besluit om in bitcoin te belê, aangesien dit sy omgewingsbeeld ondermyn.  

Volgens Van Zyl kan daar egter geargumenteer word dat die verhoogde vraag na elektrisiteit groei in die ontwikkeling van volhoubare groen elektrisiteit kan stimuleer.  As ’n mens die hele waardeketting ontleed wat by die goudbedryf betrokke is, kan hierdie kommoditeit – met eintlik ’n baie klein inherente waarde – dalk ook ’n skokkende omgewingsimpak toon, selfs al word die verlies aan menselewens wat by die ontginning, vervoer en beskerming daarvan betrokke is, buite rekening gelaat.

“Teoreties kan die regulering van kriptobates help om vertroue te bou as gevolg van die oorsig wat verskaf word, en omdat aanspreeklikheid in ’n persoon of entiteit gevestig kan word indien iets verkeerd loop.  Bes moontlik kan regulering help om welbekende Suid-Afrikaanse slenters wat met bitcoin verband hou, soos BTC Global en Mirror Trading International, te help voorkom, of die verliese wat gely is, te beperk,”sê hy.

Sentrale banke wêreldwyd het begin om op kriptogeldeenhede te begin fokus, die VK se Tesourie en die Bank van Engeland het ’n taakspan daaroor, en die Chinese is met proeflopies besig. Volgens Cox sien die Wall Street-banke digitale geldeenhede van sentrale banke as die volgende groot finansiële ontwrigter.

China het onlangs sy eie digitale geldeenheid geskep – volgens die Wall Street Journal ’n eerste vir ’n groot ekonomie. Dit sal Beijing in staat stel om besteding intyds na te spoor, en ook toegang verskaf tot geld wat nie aan die dollar-gedomineerde wêreldwye finansiële stelsel gekoppel is nie. Vir kripto-puriteine sal dit een van die voordele van kriptogeldeenhede, naamlik die anonimiteit van die gebruiker, heeltemal negeer, en sal baie meer mag aan ’n sentralistiese regering verskaf om sy ekonomie en sy mense te moniteer.

Aan die ander kant het Turkye se sentrale bank ’n verbod op die gebruik van kriptobates vir betalings aangekondig. Die Nigerian Central Bank het nie kriptogeldeenhede verban nie, maar sekere transaksies in kriptogeldeenhede in die banksektor is verbied.

Net soos fiatgeldeenhede, kan kriptobates misbruik word om misdaad te pleeg of dit moontlik te maak. Geldwassery is ’n sleutel tot kriptogeldeenheidgebaseerde misdaad. Die primêre doelwit van kubermisdadigers wat kriptogeldeenhede benut, is om die bron, toepassing of bestemming van hulle fondse te verdoesel deur gedurende die verskillende stadiums van hulle kriminele aktiwiteite hulle kriptogeldeenhede in fiatgeldeenhede om te skakel, of omgekeerd.  Die gebrek aan regulering, die gemak van oordrag en anonimiteit van kriptogeldeenhede maak dit baie aantreklik vir die doeleindes van geldwassery.

Kriptogeldeenhede word ook in Ponzi-skemas gebruik.  Die berugte Suid-Afrikaans-gebaseerde Mirror Trading International is in 2020 as die wêreld se grootste kriptogeldeenheid-Ponzi-slenter gekroon. Ongeveer $589 miljoen is verloor, en het volgens die 2021-kripto-misdaadverslag (Crypto Crime Report) van Chainanalysis honderde duisende beleggers geraak.  

Interessant genoeg toon hierdie verslag dat kriptogeldeenheidverwante misdaad in 2020 beduidend gedaal het. Onwettige aktiwiteit het 2,1% van alle transaksievolumes in kriptogeldeenhede in 2019 verteenwoordig, vergeleke met net 0,34% in 2020. Let egter daarop dat kriptogeldeenheidverwante misdaad ’n klein deeltjie is van die oorkoepelende kriptogeldeenheid-ekonomie, en dit is kleiner vergeleke met die hoeveelheid onwettige fondse wat by tradisionele finansies betrokke is.

Van Zyl sluit af deur te sê dat kriptogeldeenhede ook toenemend in geteikende losprysware-aanvalle gebruik word.  Geteikende losprysware (ook as “grootwildjag” bekend) bestaan uit families van losprysware wat gebruik word om geld van ’n bepaalde slagoffer af te pers.  “’n Voorbeeld hiervan was die geteikende losprysware WastedLocker, wat in 2020 sy verskyning gemaak het. Dit het wêreldwyd die hoofopskrifte gehaal toe dit die gewildste dienste van Garmin, die bekende fiksheids- en GPS-tegnologiemaatskappy, drie dae lank aflyn gelaat het toe dit die maatskappy se data vir ’n losprys van $10 miljoen gyselaar gehou het. Die probleem is dat niemand weet waar in die wêreld die losprysware-aanvallers geleë is nie, en veral omdat die betaling van die losprysbedrag in bitcoin vereis word, is dit moeilik om die vloei van die geld te volg,” voeg Van Zyl by.

........

Albert van Zyl

Submitted on Thu, 05/27/2021 - 12:53