Kindergesondheid: Kom ons keer terug na wat werk

“Ons moet ʼn toekoms skep waar ons kinders gesond en fisiek aktief is.” Dít, sê professor Dané Coetzee, kinderkinetikaspesialis by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Skool vir Menslike Bewegingswetenskappe, moet ʼn prioriteit bly. Daarom moet daar ook in ʼn toenemend digitale wêreld gekyk word na wat in die verlede gewerk het.

“Ek het deur onlange navorsing en eerstehandse ervaring gesien dat ons kinders se motoriese vaardighede en motoriese ontwikkeling stelselmatig besig is om agteruit te gaan. Dit beïnvloed nie net hulle gesondheid nie, maar dra ook daartoe by dat hulle meer oorgewig raak en selfs aan obesiteit ly. Hulle wil dan ook minder aan sport deelneem omdat hulle nie meer oor die vaardighede beskik om dit te kan doen nie,” sê Coetzee.

“Ons moet daarop fokus om ons kinders se lyfies buite te kry sodat hulle kan speel en ontwikkel. Dit is noodsaaklik dat ons kinders moet begin speel. Daar moet aktiewe spel plaasvind. Kinders leer ook deur te speel.”

Volgens haar is een kwelvraag die rol wat digitale media in kinders se ontwikkeling speel.

“Digitale media kan ʼn goeie ding vir ons kinders wees, maar dit kan ook sleg wees. Daardie gesegde wat sê dat te veel van enige iets ʼn slegte ding is, is ook op sosiale media van toepassing.”

Sy noem ook dat kinders tydens die Covid-19-pandemie noodgedwonge meer tyd voor hulle skerms deurgebring het, maar dat dit nie toegelaat mag word om die norm te bly nie.

“Kinders het minder buite gespeel en hulle het minder met hulle vriende gespeel, en so het die ontwikkeling van daardie sagte vaardighede agterweë gebly. Verder is dit baie belangrik dat wanneer kinders met sosiale of digitale media besig is, dit gemonitor moet word. Dit hoef nie heeltemal uit hulle ontwikkeling verwyder te word nie, maar dit moet gemonitor word. Te veel sosiale en digitale media kan daartoe lei dat kinders se motoriese vaardighede nie ontwikkel soos dit moet nie. Te veel skermtyd veroorsaak ook slegte slaapgewoontes, wat weer tot moontlike gedragsprobleme kan lei. Dit kan ook tot swak konsentrasie lei, wat dan vanselfsprekend hulle skoolprestasie sal beïnvloed.”

Coetzee het afgesluit deur te sê: “Ek wil dit weereens duidelik maak dat skermtyd nie weggeneem hoef te word nie, maar dat dit verantwoordelik gemonitor moet word.”

Submitted on Wed, 11/02/2022 - 11:19