Kampus speel gasheer vir KANSA Relay for Life

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark het vanjaar vir die sewende keer gasheer gespeel vir die jaarlikse KANSA Relay for Life-inisiatief.

Hierdie inisiatief bied aan die gemeenskap die geleentheid om kankeroorlewendes te vier, om die wat hul stryd teen die siekte verloor het te onthou, en om bewusmaking oor kanker te skep. In kort: ‘n gemeenskapsgeleentheid wat spreek van ‘n gedeelde sorgsaamheidsetiek.

Honderde mense van regoor die streek het tydens die naweek van 28 en 29 September op die kampusgronde toegesak om die geleentheid te ondersteun.

Wanneer kanker aan jou deur kom klop

Die geleentheid is amptelik deur Jacob Simango, die kampus se direkteur vir studentelewe, geopen. In sy toespraak het Jacob die verhaal van sy eie kankerpad gedeel en ‘n boodskap van hoop aan almal gegee wat deur dié siekte geraak word.

“Kanker het reeds verskeie kere aan ons deur kom klop, en soos ek vandag hier staan het ek my ouers, my broers, ‘n oom en ‘n hele paar vriende aan die dood afgestaan,” het Jacob – wat self ook teen ‘n kankerdiagnoses baklei het, gesê. Hy is in 2016 met ‘n nasofaryngeale karsinoom gediagnoseer en moes bestraling en chemoterapie ontvang. Hy is in Julie 2018 kankervry verklaar.

Hy het voorts gesê dat hierdie “klop aan die deur” ‘n groot impak het mense het en dat dit hulle beangs en geïntimideerd laat voel. Jacob meen egter dat elke individu kan moed skep uit die krag van familie, vriende en die gemeenskap.

“Wanneer een (kanker)stryder verswak, dan word ‘n ander weer sterker. Vandag verklaar die Vanderbijlparkgemeenskap dat ons soos oorwinnaars teen kanker sal veg. Ons is sterker en meer voorbereid vir hierdie stryd en ons verklaar dat die oorwinning reeds behaal is!”

Ter afsluiting het hy KANSA geloof vir die ondersteuning wat aan kankerlyers gebied word. Hy het ook elke vrywilliger en dienswerker bedank vir die liefde en deernis waarmee hulle die gemeenskap dien.

 
Jacob Simango en ander kankeroorlewendes neem deel aan ‘n staptog ter viering van hul gesondheid.

Submitted on Mon, 10/14/2019 - 13:26