Hoe gesinne geestesgesondheidsorgkwessies hanteer

’n Hele gesin kan geraak word as ’n gesinslid ’n geestesiekte, gestremdheid of ontwikkelingsagterstand het. Meganismes om die gevolglike stres te hanteer, sluit in om te ontsnap, die situasie te vermy, dit te ontken, of om hulle na godsdiens te wend. Só sê Tshepang Modise, wat ’n meestersgraad in verpleegkunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) behaal het.

Tshepang het navorsing getiteld “Coping mechanisms used by families of mental health care users (MHCU) in Mahikeng Sub-district, North West Province” uitgevoer.

Die doel van die studie is om die hanteringsmeganismes van gesinne in die omgewing wat geestesgesondheidsorg gebruik, te ondersoek, te beskryf en te kontekstualiseer, en om aanbevelings te maak oor hoe hulle hul hanteringsmeganismes kan verbeter.

“Gesinne het verskillende uitdagings wanneer hulle geestesgesondheidsorggebruikers op ’n daaglikse basis moet hanteer, ondersteun en versorg,” sê Tshepang. “Net so maak hulle van verskillende hanteringsmeganismes gebruik, soos om hulle na godsdiens te wend, om te ontsnap, of die probleem te vermy of te ontken, net om die negatiewe sielkundige en emosionele impak van hierdie stressors te verminder.”  

Hy sê dat die studie drie temas na vore gebring het, naamlik uitdagings wat deur gesinslede ervaar word, hulle hanteringsmeganismes, en voorstelle om hierdie hanteringsmeganismes te verbeter.

“Van die hanteringsmeganismes wat gesinslede gebruik, is onvoldoende en vereis dat dit verbeter word om gesinne in staat te stel om doeltreffend te funksioneer. Wanneer hanteringsmeganismes verbeter word, verbeter die welstand van die gesin en dié van geestesgesondheidsorggebruikers ook.”

Tshepang beveel aan dat verdere navorsing oor die ontwikkeling van programme, gesondheidsbevorderingsinstrumente en riglyne vir die regering vir die ondersteuning en verbetering van hanteringsmeganismes vir gesinne van geestesgesondheidsorggebruikers gedoen word.

“Die studie beveel aan dat hanteringsmeganismes by die kurrikulum van voorgraadse verpleegkundestudente ingesluit word om hulle te bemagtig om beter ondersteuning te verskaf en hierdie gesinne te help om hulle situasie doeltreffend te hanteer.”

Luister na Tshepang wat oor sy studie gesels.

TP Modise

Tshepang Modise.

Submitted on Fri, 09/17/2021 - 13:17