Hoe aanpasbaar is SA se vroulike entrepreneurs?

Marelize Santana -- Fri, 08/31/2018 - 09:26

Hoe aanpasbaar is SA se vroulike entrepreneurs?

Suid-Afrikaanse beleidmakers en navorsers stem saam: ’n florerende klein-, medium- en mikro-ondernemingsektor (KMMO-sektor) is die sleutel tot werkskepping, ekonomiese volhoubaarheid en uiteindelik positiewe groei. Met die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) wat voorspel dat KMMO's teen 2030 90% van die beoogde 11 miljoen nuwe poste sal genereer, kan die toekoms baie helder wees.

Dit is ongeag die uitdagings wat entrepreneurs, veral vroulike entrepreneurs, ervaar.

Fokus op vroulike entrepreneurskap

Natanya Meyer, dosent in die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en self ’n entrepreneur, ondersoek die situasie van vroulike entrepreneurs vir haar doktorale studie. Met die uitdagings waarvoor entrepreneurs te staan kom in gedagte, probeer sy die volgende beantwoord: Watter faktore beïnvloed Suid-Afrika se vroulike entrepreneurs se voorneme om in die besigheidswêreld te bly?

Natanya verduidelik dat entrepreneurskap van die uiterste belang is vir ’n ontwikkelende land soos Suid-Afrika, waar armoede en hoë werkloosheidsyfers hoogty vier. Trouens, sy glo dat vroulike entrepreneurskap spesifiek ’n oplossing bied om die stagnante ekonomiese groei te ontsluit.

“Vroue maak meer as die helfte van die wêreldbevolking uit, en as sodanig moet hulle rol as entrepreneurs nie verontagsaam word nie,” sê sy, en verduidelik dat vroulike entrepreneurs ’n rimpeleffek op ontwikkeling het, aangesien hulle tipies meer geld as hulle manlike eweknieë in die gesondheid, opvoeding en algemene welstand van hulle gesine en gemeenskappe belê.

Deur haar kwantitatiewe navorsingsbenadering, wat ’n beskrywende, enkelsteekproef-, dwarsdeursnee-ontwerp ingesluit het, het sy bepaal waarom vroulike entrepreneurs besluit om in die besigheidswêreld te bly eerder as om na ’n formele voltydse werk terug te keer. Sy het daarna ook die faktore geïdentifiseer wat hierdie gevoel van aanpasbaarheid ondersteun.

Natanya het die nodige data ingesamel met behulp van ’n vraelys wat vooraf getoets en in loodsvorm uitgestuur is. Dit het bestaan uit 12 afdelings met verskillende konstrukte oor entrepreneursingesteldheid,  voorneme en  groei. Die laaste twee afdelings van die vraelys het op die respondente (vroulike entrepreneurs) se demografiese ligging en besigheidsinligting gefokus. Respondente het uit al nege provinsies gekom, en die finale steekproef het 510 bruikbare vraelyste opgelewer.

Bevindings beklemtoon aanpasbaarheid

Die vernaamste bevindings van die studie dui daarop dat Suid-Afrikaanse vroulike entrepreneurs ’n positiewe ingesteldheid teenoor en die aanpasbaarheid het om in hulle eie besighede te bly – en dit uiteindelik te laat groei – ongeag die uitdagings waarvoor hulle te staan kom.

Volgens Natanya is die sleutelvoorspellers van vroulike entrepreneurs se voorneme om in hulle besigheid te bly hulle ingesteldheid teenoor groeifaktore en hulle interne motiverings, wat aspekte soos onafhanklikheid, werk-lewe-balans, die nastreef van ’n uitdaging, maatskaplike bydraes en gesinsekuriteit insluit.

“Wat baie interessant was om uit te vind, was dat faktore soos vorige voltydse werkservaring, huwelikstatus en kinders nie enige afwyking ten opsigte van die resultate veroorsaak het nie,” sê Natanya. Sy verduidelik dat die studie definitief bewys dat interne motiveringsfaktore die meeste impak op vroulike entrepreneurs het.

Waarde van die studie

Prof Babs Surujlal, die studieleier, sê dat Natanya se navorsing waardevolle nuwe insig tot die bestaande korpus kennis oor vroulike entrepreneurs toevoeg. Die navorsing sal verder help om beleide te ontwikkel wat op die bemagtiging van vroue, werkskepping en besigheidsontwikkeling gerig is. Kortom: ’n padkaart om vroulike entrepreneurs te lei.

 
Natanya Meyer.