Gr8 Success! – ’n ernstige speletjie om vir mense sagte vaardighede aan te leer

Ontmoet vir Faith Sibiya en Carl Thomson. Hulle is twee tipiese universiteitstudente. Faith is ’n eksentrieke voetesleper en vind altyd ’n verskoning om daardie baie belangrike taak te doen… maar môre. Carl, aan die ander kant, is ’n aandagafleibare lolpot. Hulle moet albei binne ses maande hulle buiging in die werksomgewing daarbuite maak.

Weet hulle dat die bedryf meer as bloot tegniese vaardighede en kennis van hulle vra? En nog belangriker: weet hulle watter sagte vaardighede hulle nodig het om op hulle eie en op alle areas van die lewe hulle pad te vind?

Met hierdie belangrike leeruitkoms in gedagte het twee navorsers van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Skool vir Inligtingstegnologie met ’n oplossing vorendag gekom. Hulle het ’n unieke tafelspeletjie ontwerp om die aanleer van sagte vaardighede by tegniese studente in die Suid-Afrikaanse konteks te bevorder.

Meer indiensneembare gegradueerdes
Volgens die twee navorsers, Lance Bunt en Japie Greeff, bied die tafelspeletjie, Gr8 Success!, ’n innoverende alternatief vir tradisionele akademiese leer.

Die speletjie – wat deel van Lance se meestersgraadstudie is – is gebou op die bevindings van ’n internasionale navorsingstudie deur die tegniese reus Google. Die studie het sagte vaardighede soos kommunikasie, empatie, verrykte spanwerk, kritiese denke en probleemoplossing as die waardevolste faktore in die voorspelling van sukses in hulle maatskappy uitgewys.

“Die studie weerlê die algemene oortuiging dat harde vaardighede belangriker vir sukses in die werkplek is as oordraagbare sagte vaardighede,” verduidelik Lance. Hy voeg by dat ’n geleentheid om dit te toets na vore gekom het toe die struktuur van die NWU se BSc IT-program in 2017 ’n belyningsproses regoor die drie kampusse ondergaan het.

Die belyning het dit noodsaaklik gemaak dat verandering plaasvind om die bekommernisse oor die indiensneembaarheid van gegradueerdes te hanteer. Kortom: dosente het na nuwe maniere gesoek om opleiding in sagte vaardighede aan finalejaarstudente bekend te stel.

Bordspeletjie om implisiete leer te bevorder
Lance en Japie is lede van die Serious Games Institute of South Africa (SGI-SA), wat die uitdaging aangepak en die Gr8 Success-bordspeletjie ontwikkel het om aan dosente ’n innoverende oplossing te verskaf wat maklik in die praktyk van onderrig en leer aangewend kan word.

Japie verduidelik dat hoewel digitale speletjies vir leer baie gewild is, hulle navorsing toon dat daar ’n herevaluering van tafelspeletjies plaasvind, aangesien dit vir ’n unieke sosiale ervaring voorsiening maak. Wanneer die speletjie gespeel word, is daar verskillende soorte sosiale dinamiek tussen spelers – soos sosiale spel, die maak van beurte en samewerking.

Die speletjie is ontwerp om eerstens ’n vermaaklike aktiwiteit te wees en daarna ’n opvoedkundige ervaring, en volgens Lance is hierdie benadering gevolg om te verseker dat dit ’n prettige, vrolike ervaring is waar implisiete leer plaasvind.

Die navorsers verduidelik dat die bordspeletjie – in teenstelling met vorige SGI-SA-werk – as tafelspeletjie ontwerp is. Gr8 Success! is SGI-SA se heel eerste fisiese bordspeletjie wat veelvuldige spelers betrek, en het die navorsers op ’n onbekende gebied gelei.

Kom ons speel!
Gr8 Success!, wat by ’n fiktiewe tersiêre-onderwysinstelling afspeel, stel spelers met behulp van karakterkaarte aan agt oordrewe weergawes van tersiêre-onderwysstudente bekend.

Tydens die verloop van die speletjie kan deelnemers die kernkomponente van hierdie karakters se gedrag en sagte vaardighede verander deur wysigingskaarte bo-op hierdie karakters te plaas. Om die speletjie te wen, moet agt areas van effektiwiteit op die karakterkaart ingevul word.

Dit sal interessant wees om te sien hoe hierdie speletjie ons twee tipiese studente, Faith en Carl, verander van loskopstudente in dié wat vir die werksomgewing gereed is.

Japie Greeff and Lance Bunt sê die tafelspeletjie, Gr8 Success!, is ’n innoverende alternatief vir tradisionele akademiese leer.

Submitted on Fri, 10/26/2018 - 09:36