EWP-galafunksie vier die prestasie van vroulike entrepreneurs

Met vroue steeds in die minderheid wat Suid-Afrika se entrepreneurslandskap betref, werk die Noordwes-Universiteit (NWU) baie hard daaraan om vroue binne sy eie demografiese omgewing te bemagtig om selfversorgende sake-eienaars te word.

Dit is sewe jaar sedert die begin van die NWU se entrepreneurskapsontwikkelingsprogram, Ondernemende Vroue (EWP), en die universiteit het al vroue uit alle lae van die samelewing gehelp om suksesvolle beginnerentrepreneurs te word wat nie net hulle persoonlike besigheidsideale verwesenlik nie, maar ook aktief tot die groei van die ekonomie bydra.

Die program, wat as die NWU se vlagskipkortprogram vir entrepreneurskap beskou word, word in Mahikeng, Potchefstroom, Sasolburg en Vanderbijlpark aangebied en word deur die bhive Ondernemingsontwikkelingsentrum (EDC) in Vanderbijlpark gekoördineer. Laasgenoemde verteenwoordig ’n dinamiese spil van entrepreneursaktiwiteit in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

Galageleentheid om fempreneurs te vier

Deelnemers van twee afdelings van die EWP sal op 24 Oktober gradueer. Deelnemers van die EWP Vanderbijlpark en EWP Sasolburg sal tydens hierdie geleentheid die verhoog bestyg om hul suksesvolle voltooiing van die program te vier.

’n Groep van 23 vroue sal hierdie jaar deur lede van die streek se besigheidsgroepe en die universiteitsbestuur gelukgewens word.  

“Elke groep EWP-gegradueerdes bevestig net weer die NWU se verbintenis tot maatskaplike responsiwiteit,” sê Johan Landsberg, die bestuurder van die bhive EDC. Hy voeg by dat die program as afspringplek dien vanwaar fempreneurs die uitdagings wat eie aan hulle is, doeltreffend die hoof kan bied. Hierdie uitdagings sluit hoë vlakke van huishoudelike verantwoordelikheid, ’n gebrek aan assertiwiteit en selfvertroue, minder besigheidsgeoriënteerde netwerke in hulle gemeenskappe en ’n gebrek aan kapitaal en bates in.

’n Bewese prestasierekord

Die program het oor die afgelope sewe jaar vroulike entrepreneurs in staat gestel om baanbrekers op talle gebiede te wees, soos in app-ontwikkeling, spyseniering, in die konstruksiebedryf, mode-ontwerp, binnenshuise versiering, asook instandhoudingsbestuur.

Ander het unieke produkte ontwikkel en bekendgestel om vir verskillende nismarkte voorsiening te maak. Voorbeelde sluit in ’n ekovriendelike mobiele motorwasdiens vir groot besighede, die verwerking van plastieksakke in ontwerpermatte vir die toerismebedryf, en selfs ’n taksidermiediens wat nommerpas vir die wild- en jagbedryf is.

Talle van hierdie entrepreneurs gee weer iets terug deur werk aan ander vroue in hulle onderskeie gemeenskappe te verskaf en selfs jongmense as interns in diens te neem en aan hulle die krag van entrepreneurskap te toon en hulle te leer.

Volgens Leonie Greyling, die EWP-koördineerder, lê die sukses van die jaarlikse program daarin dat dit intydse sake-ondersteuningsdienste aan vroue gee.  Deelnemers word deur ’n omvattende kurrikulum geneem om hulle te help om besigheidsidees en markte te identifiseer, ’n goeie besigheidsmodel te ontwikkel, en uiteindelik hulle eie beginneronderneming suksesvol te inisieer. Leonie voeg by dat vroue tydens die proses nie net deel van ’n dinamiese portuurnetwerk word nie, maar ook persoonlike mentorskap van ervare entrepreneurs en kundige lede van die akademie ontvang.

“Die program verskaf op die ou einde aan vroue die geleentheid om hulle entrepreneurspogings vryelik te ondersoek, terwyl hulle terselfdertyd deur werkswinkels en groepgesentreerde leeraktiwiteite die voordele van ’n gestruktureerde leerervaring geniet,” sê Leonie.

 

 

Submitted on Mon, 10/07/2019 - 15:04