Entrepreneursukses vir NWU-alumnus Thabiso

Thabiso Kgabung (27) het drie jaar lank vanuit die gerief van ’n lesingsaal vir die werksomgewing voorberei met die hoop dat wanneer hy sy graad verwerf het, hy ’n werksaanbod in sy voorkeur-studiegebied sou kry. Die werklikheid het hom egter geleer dat werk in Suid-Afrika – vir ervare professionele persone sowel as vir gegradueerdes – nie so maklik is om te kry as wat jy sou verwag nie.

Vandag is Thabiso, ’n alumnus van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark, die trotse stigter en kreatiewe direkteur van sy eie digitalebemarking-konsultasiefirma, gepas genaamd Naughty Banana.

Die naam, wat beslis ’n mens se aandag trek, is bewustelik gekies om Thabiso se onderneming anders as dié van sy mededingers te maak.

“Mense probeer baie maal om in te pas en by die bedryf se konvensies en tradisies in te skakel. Ek val nie sommer by die status quo in nie en omarm kreatiwiteit ten volle,” sê hy, en voeg by dat dit in ’n “raserige” bedryf waar dit lyk of almal só hard skree om aandag te kry, belangrik is om anders as die res te wees.  

“As Apple so goed vir Steve Jobs gewerk het, dink net waar Naughty Banana my heen kan neem!” lag Thabiso.

Maar hoe het hy die sprong gemaak van ’n werklose gegradueerde na ’n suksesvolle entrepreneur met hoëvlakkliënte soos Toyota South Africa, Hollard-versekering, Avon Cosmetics en Lexus? Hy is sedert sy skooldae anders as die gewone ouens.

Staan uit, praat

Thabiso het sy hoërskoolloopbaan in 2008 aan die Suiderlig Hoërskool in Vanderbijlpark voltooi. Hy het as lid op die skool se verteenwoordigende leerderraad (VLR) gedien. Interessant genoeg is sy verkiesing op die VLR net nog ’n voorbeeld van Thabiso se vasberadenheid om bó die massa uit te styg.

Hy het pas in die middel van die skooljaar by Suiderlig aangesluit en was nie van stryk gebring deur die feit dat nuwelinge selde op die VLR verkies word nie. Dit het hom ook nie gepla dat hy net vyf maande gehad het om sy doel te bereik nie. Hy het geen tyd gemors voordat hy met sy veldtog begin het nie, en tot almal se verbasing is hy genomineer en as VLR-lid verkies.

Thabiso het in 2009 vir ’n BA-graad in Kommunikasiekunde op die kampus in Vanderbijlpark ingeskryf, met kommunikasiekunde en politieke studie as hoofvakke.

As hy aan sy studentedae terugdink, onthou Thabiso met vreugde die tyd wat hy saam met sy vriende langs die rivier deurgebring het, en met sy dosente aan besprekings oor lewensegte uitdagings in korporatiewe kommunikasie deelgeneem het. Hy het veral die klasse van dosente soos Phil Pretorius en Annette Willemse geniet, en voeg by dat hulle aan hom die waarde van tweerigtingkommunikasie geleer het. “Hulle het my geleer om nie net oor kommunikasie te praat nie, maar om my moue op te rol en netwerke te bou en verhoudings in stand te hou. Ek salueer hulle!”

Thabiso se een en enigste skof as werknemer

Nadat hy graad gekry het, wou Thabiso as jong professionele kommunikasiekundige die “wêreld verander”. Sy droom om die korporatiewe sektor te betree, het egter spoedig in ’n nagmerrie ontaard toe hy nie werk kon kry nie. “My eerste kennismaking met die werksomgewing het my sprakeloos gelaat,” onthou hy, en sê dat hy tred verloor het met die hoeveelheid CV’s wat hy aan voornemende werknemers uitgestuur het.

’n Jaar nadat hy graad gekry het, het Thabiso by ’n opleidingsverskaffer in Sandton werk gekry. Aangesien die organisasie relatief klein was, het hy vinnig opgang gemaak en is binne twee jaar as projekbestuurder aangestel. “Dit was my een en enigste formele werk,” sê Thabiso, wat heeltemal te veel van ’n individualis is om volgens iemand anders se voorgeskrewe reëls en regulasies te werk.

Die finale stukrag om sy eie onderneming te begin, het gekom nadat die maatskappy as gevolg van foutiewe interne stelsels en prosesse moeilike tye beleef het. “Die moraal van die personeel was op ’n absolute laagtepunt en met my beperkte jurisdiksie kon ek maar net toekyk hoe ons by ’n punt gekom het toe ons werk nie meer betekenisvol of lonend was nie. Ek het besluit om my eie ding te doen en het tot vandag toe nog nie een keer teruggekyk nie. Ek dink dis waar wat gesê word: wie waag, die wen!” 

Naughty Banana ’n wonderlike idee

Die pad wat hy geloop het om op sy eie te begin, was glad nie met rose besaai nie, onthou Thabiso. “Dit is baie skrikwekkend om jouself in ’n oorlewingstryd te sien. Die besef dat alles van jouself afhang, kan ’n volwasse man laat huil! Met die genade van God kon ek daarin slaag om my kop bo water te hou, en in 2014 het ek begin konsulteer en is die grondslag vir toekomstige handelsmoontlikhede gelê. Naughty Banana is in 2016 formeel geregistreer.

“Entrepreneurskap kan nie aangeleer word nie, jy leer namate jy aangaan en jou foute raak stappe tot sukses.”

Thabiso noem dat die bou van verhoudings ’n baie belangrike aspek van sy besigheid is. “Elke keer as ek ’n nuwe kliënt bykry of ’n ervare HUB ontmoet, weet ek my droom het ’n werklikheid geword. Mense in die bedryf na wie ek opsien, is nou my mentors, en ek is steeds verstom daaroor. Ek is ook geweldig trots daarop dat ek deur Naughty Banana daarin geslaag het om 10 mense in diens te neem.

“As trotse Afrikaan glo ek dat die reklamebedryf selfs nog oper moet raak om talentvolle jongmense te akkommodeer. Dieselfde geld vir die eienaarskap van agentskappe. Die sleutel om die bedryf vars en lewendig te hou, is dat agentskappe die oorkoepelende Afrika-mark moet verstaan, en dit verg ’n grondvlakbenadering vir hulle werk. Ek glo ook dat Naughty Banana ’n betekenisvolle rol in die vorming van die bedryf kan en sal speel.” 

 

    

Thabiso is ’n toegewyde gesinsman. Sy lewensmaat, Keneilwe, is ook ’n alumna van die NWU.

 

 

 

     

Submitted on Wed, 04/18/2018 - 12:40