Ekonoom plaas brandstofprysverhoging in perspektief

Vanaf 1 Februarie 2017 kos 93- en 95-oktaanpetrol 29c/ℓ meer. Dié prysstyging is deur  die Departement van Energie aangekondig wat die olieprys en rand/dollar-wisselkoers as redes vir die styging gee. Tydens ’n RSG-onderhoud het die welbekende ekonoom, dr Andre Mellet van die Noordwes-Universiteit (NWU), ’n vergelyking tussen 2016 en 2017 se brandstofpryse getref, en sy insig oor die res van die jaar gedeel.

Dit is wat hy te sê gehad het:
Motoriste in Suid-Afrika sal in Februarie 2017 meer vir petrol betaal en volgens die Departement van Energie kan die styging in brandstofpryse toegeskryf word aan die rand-dollar-wisselkoers, die ruolie-prysstyging en die styging in die internasionale pryse van petroleumprodukte. Dit is my opinie dat die styging nie aan ’n enkele faktor toegeskryf moet word nie, maar eerder aan ’n kombinasie van scenario’s in die wêreld.

2017 en Jan Alleman

Suid-Afrikaners het reeds in 2017 twee stygings in brandstofpryse in twee maande gehad, en as ons hierdie stygings met die vorige jaar vergelyk, word dit duidelik dat 2017 ons reeds bloedneus slaan. Die prys van hoëoktaanbrandstof is in Januarie 2016 op R12,09 vasgestel teenoor die R13,09 van Januarie 2017. Net so het die prys van hoëoktaanbrandstof in Februarie van hierdie jaar met 29c/ℓ gestyg teenoor ’n blote 6c/ℓ in 2016. In Januarie 2016 was die prys van ruolie $30 per vat en het geleidelik tot $55,56 teen Desember 2016 gestyg – ’n styging van net onder die $30 per vat.

Ek is uiteraard ’n optimis en ek glo dat twee belangrike faktore ’n rol gaan speel in die vasstelling van die brandstofprys in 2017: verhoogde gasproduksie in Amerika, en Iran wat as petroleumuitvoerder te voorskyn gaan kom. Na my mening sien ek nie dat ruolie in 2017 bokant $60 per vat gaan styg nie.

Dr Andre Mellet

Submitted on Wed, 02/01/2017 - 10:33