Eerste SOWASK projek getuig studentegroep gaan van krag tot krag

Die Maatskaplike Werk Studentevereniging (SOWASK) op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark is vasbeslote om ‘n verskil te maak. Hulle het onlangs met die eerste van baie projekte ten bate van die groep en hulle gemeenskap, afgeskop.

Met hulle eerste projek, “Greening up our Act”, het die studente – vergesel deur die SOWASK-voog, dr Elmien Truter – Bophelong, ʼn verarmde gemeenskap op die buitewyke van Vanderbijlpark, besoek waar hulle vir die middag rommel opgetel het.

Die studente van die Maatskaplike Werk Studentevereniging (SOWASK) het onlangs Bophelong besoek om rommel op te tel.

Hierdie poging, met die hoop om werklik die lewens in hul gemeenskap te raak, vind aanklank by die “omgewingsvolhoubaarheid”-tema van die Internasionale Federasie vir Maatskaplike Werk se 2017 Maatskaplike Werk dag.

Die span, verteenwoordig deur studente van eerste- tot vierdejaarsvlak, het rommel op vier strate opgetel terwyl hulle met lede van die gemeenskap gesels het. 

Dit was duidelik uit die studente se terugvoer dat die dag nie net ʼn positiewe impak op die gemeenskap gehad het nie, maar dat hulleself ook daardeur geraak is. Hulle kon die belangrikheid van sulke projekte in die groter prentjie van maatskaplike werk uitwys. Die gemeenskap het op hulle beurt weer die belangrikheid van ʼn skoon omgewing raakgesien en het hulle dankbaarheid teenoor die groepie studente uitgespreek.

Submitted on Fri, 05/12/2017 - 14:34