Dosent dra tot die wêreld se kennisskatte by

Taal fassineer prof Bertus van Rooy, wat floreer op die ingewikkeldhede van menslike uitdrukking deur taal, en vir sy pogings het hy van B3 tot B2 in die Nasionale Navorsingstigting (NNS) se graderingstelsel gevorder.

Bertus is ’n dosent in tale en direkteur van die navorsingsfokusarea met die naam Verstaan en Verwerking van Taal in Komplekse Omgewings (UPSET) op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark.As ’n B2-gegradeerde navorser word hy internasionaal erken vir die hoë gehalte en impak van sy navorsingsuitsette.

Dit is inderdaad ’n beduidende prestasie, maar Bertus bly nederig. Hy beskou sy B2-gradering as bevestiging dat sy werk van ’n goeie gehalte is en ’n rol in die internasionale diskoers binne sy veld speel. Dit verskaf toegang tot befondsing wat hom in staat stel om sy navorsing tot die volgende vlak te voer. 

Die kollig is beslis nie wat hom inspireer nie. “Ek vind taal self fassinerend,” sê hy, “veral die manier waarop mense taal gebruik om hulleself uit te druk. Dit is egter redelik onmoontlik om antwoorde te vind op die samehang van taal in sy geheel, daarom moet navorsingsprojekte in kleiner gedeeltes opgebreek word. Ek probeer deurgaans om te verstaan hoe hierdie stukkies taal werk en watter faktore – hetsy taalkundig, sosiaal of kognitief – die vorming en ontwikkeling van elke stukkie beïnvloed.” 

Pak die taak wat agtergebly het

Bertus glimlag as hy oor sy werk praat: “Een van die grootste projekte waaraan ek as deel van ’n span mense werk, is om ’n omvattende grammatika van Afrikaans te skryf. Dit is ’n taak wat niemand in die afgelope amper 40 jaar enige aandag aan gegee het nie.”  

Die projek word “Taalportaal”(http://www.taalportaal.org/taalportaal/topic/) genoem en word ondersteun deur die Virtuele Instituut vir Afrikaans, ook bekend as VivA (http://viva-afrikaans.org). 

Bertus is nou deel van ’n span kundiges op die gebied van sinsbou wat oor die verloop van vyf jaar hierdie yslike taak aangepak het en hulle bevindings aanlyn publiseer. Hy is daarvan oortuig dat die eindproduk van hulle werk nie in eksklusiewe boeke en duur vaktydskrifte weggesteek behoort te word nie.  

Hy is in Mei 2017 tot die bestuur van die International Computer Archive of Medieval and Modern English (ICAME) gekies en het onlangs hoofstukke in die Oxford Handbook of World Englishes en die Cambridge Handbook of Learner Corpus Research gepubliseer.   

“Ek het onlangs besef dat ek presies halfpad met my akademiese loopbaan is, vanaf die datum van my aanstelling op ons kampus in 1995, tot die tyd wanneer ek aftreeouderdom sal bereik,” sê Bertus.

Dit is goeie nuus vir die akademiese wêreld, aangesien dit beteken dat daar steeds baie tyd oor is vir hierdie dinamiese navorser om met sy ryke bydrae tot die kennisskatkiste van die wêreld voort te gaan.


Prof Bertus van Rooy.

Submitted on Tue, 08/29/2017 - 16:01