Die kampus se kolfblad is voorberei vir die jaarlikse KFC Minikrieketfees

Moenie dat die naam jou mislei nie. Minikrieket is ernstige sake – vra maar vir enigeen van die meer as 500 jongelinge (wat 18 skole in Gauteng verteenwoordig) wat deelneem aan die jaarlikse Minikrieketfees wat deur die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark aangebied word.

Die 2018-weergawe van die geleentheid vind op 15 September by die kampus se krieketveld plaas en is deur KFC en die Gautengse Krieketraad moontlik gemaak.

Volgens dr Anita Lennox, een van die organiseerders van die geleentheid en ’n senior lektor in die Skool vir Bestuurswetenskappe (binne die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe), is die doel daarvan om aan jong krieketspelers tussen die ouderdom van 6 en 9 jaar die geleentheid te gee om fisiese oefening te geniet terwyl hulle meer oor die dissipline van krieket leer.

“Kinders het nie net die geleentheid om op die betrokke dag hulle kolf- en boulvaardighede te oefen nie, maar ook om selfvertroue te ontwikkel en die fisiese oefening te kry wat hulle nodig het, en dit alles terwyl hulle saam met hulle nuutgevonde vriende pret op die veld het, ” verduidelik Anita.

Meer oor KFC Minikrieket                                                                         

Deur middel van hierdie inisiatief raak kinders regoor Suid-Afrika aktief. Daar is meer as 110 000 kinders wat aan die program deelneem. Die inisiatief het in 1983 begin as ’n intervensie om seuns en meisies aan die spel van krieket bekend te stel en sodoende ’n passie vir een van Suid-Afrika se mees geliefde sportsoorte te kweek.

* Dit is die vyfde keer dat die kampus gasheer vir hierdie gewilde gebeurtenis sal speel.

 

Drie hoera’s vir KFC Minikrieket!

 

 

Submitted on Fri, 10/12/2018 - 12:18