BTMG – ’n berekening wat sin maak!

Vyf jaar ná die bekendstelling van die Noordwes-Universiteit (NWU) se leerprogram, Oorbrug die Wiskunde-gaping, het die vraag na deelname aan die program met rasse skrede toegeneem.

Deur hierdie intervensie – ook die BTMG-program genoem – het talle leerders nie net hulle angs oor wiskunde oorkom nie, maar floreer ook as studente binne die uitdagende BCom- en BSc-gebiede.

Talle van hierdie leerders het van betreurenswaardige punte vir wiskunde in die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen tot registrasie vir en die suksesvolle voltooiing van hulle graadstudies in ekonomie, rekeningkunde, besigheidsinformatika en inligtingstegnologie gevorder.

Volgens Daleen Gerber, direkteur van die Skool vir Wiskunde en Toegepaste Wiskunde, is die doel van die program om graad 12-leerders te help om hulle punte in hulle finale eksamen te verbeter en aan hulle ’n groter kans op toelating tot hoër onderwys te gee. Dit help weer om in die groot behoefte aan gegradueerdes met skaars vaardighede te voorsien.

“Die werklikheid is dat wanneer ’n voornemende student se toelatingspuntetelling (TPT) nie voldoende is nie, of as hulle wiskundepunte laer as die vereiste punte is, kwalifiseer studente nie om sekere graadkursusse te volg nie, of hulle word slegs voorwaardelik toegelaat,” sê Daleen. Sy verduidelik dat deur die BTMG-program aan die begin van die nuwe akademiese jaar deur te kom, sulke studente op grond van hulle prestasie tydens die program vir die verlangde programme kan inskryf.

Die BTMG-leerplan dek nie net die basiese wiskundige begrippe wat vanaf graad 8 onderrig word nie, maar ook die toepassing van hierdie begrippe in ooreenstemming met die uitkomste wat in die graad 12-leerplan gespesifiseer word. Kortom: ’n verskerpte fokus op die hele wiskunde-spektrum wat as voorkennis vir die wiskunde-modules in onderskeidelik die BCom- en BSc IT-kurrikulum sal dien.

Doen vandag nog aansoek!

Die volgende weergawe van die BTMG-program sal vanaf 5–19 Januarie 2019 plaasvind en ’n maksimum van 50 studente kan geakkommodeer word. Let asseblief daarop dat slegs studente wat reeds aansoek gedoen het om by die NWU se kampus in Vanderbijlpark te studeer en wat reeds voorwaardelik aanvaar is, word toegelaat om vir hierdie intervensieprogram aansoek te doen. Ook sal geen kandidate met wiskundige geletterdheid aanvaar word nie.

Die program loop van Maandag tot Saterdag en sal intensiewe onderrig behels – individueel asook binne groepverband. Die koste beloop R3 500 per deelnemer.

Vir meer inligting kontak vir Luzaan by 016 910 3261 of stuur ’n e-pos aan Daleen.gerber@nwu.ac.za of Luzaan.lourens@nwu.ac.za

 

 

 

Submitted on Thu, 10/25/2018 - 09:08