Bordspeletjie help rekeningkundestudente om die sprong na die werkplek te maak

Nuuskierigheid stimuleer die brein, en dit maak bordspeletjies die ideale leerinstrument. Rekeningkundestudente sal dit binnekort agterkom wanneer hulle ’n nuwe bordspeletjie speel wat spesiaal vir hulle ontwerp is.

Kreatiewe benaderings tot onderrig en leer word toenemend binne en buite hoër onderwys gebruik. Een van die toonaangewers in tafelbladspeletjie-ontwerp is die navorsingseenheid vir Tegnologieverbeterde Leer en Innoverende Onderwys en Opleiding in Suid-Afrika (TELIT-SA), wat by die Noordwes-Universiteit (NWU) geleë is.

Die eenheid se Veruschka Pelser-Carstens en Lance Bunt is meesters met speletjie-ontwerp. Hulle jongste speletjie, Liike, is ’n bordspeletjie vir rekeningkundestudente wat daarop gemik is om gapings tussen universiteit en die werkplek te oorbrug. Verskeie modules in die BCom-program vorm deel van die speletjie, insluitend die regte, belasting, rekeningkunde en finansiële bestuur.

Veruschka verduidelik dat terugvoer van professionele liggame en die bedryf daarop dui dat werkgewers verwag dat studente teoretiese kennis moet kan toepas. Die bordspeletjie stel die ontwerpers in staat om tegniese kennis te toets en bedryfsvereistes en  verwagtinge te bestuur – en dis beslis nie vir die spelers vervelig nie.

Opvoedkundig en vermaaklik
“Die menslike brein floreer op nuuskierigheid,” sê Veruschka, en verduidelik dat navorsing oor ondersoekende leer toon dat die gebruik van bordspeletjies in ’n onderrigopset die proses van breinontwikkeling bevorder.

Die rede hiervoor is eenvoudig: nuuskierigheid maak leer doeltreffend en lekkerder omdat die spelers voortdurend na antwoorde op vrae soek. In die geval vanLiike is die speletjie ontwerp om in die eerste plek ’n opvoedkundige ervaring te wees, en dan vermaak te verskaf.
Die speletjie het navorsingswaarde ook. Dit is die eerste fisiese, multispeler-bordspeletjie wat in Suid-Afrika vir interdissiplinêre uitkomste geskep is.

Speletjies en digitale leer
Liike speel af in ’n fiktiewe sakewêreld wat die spelers (studente) self moet uitdink. Die spelers neem beheer van miniatuurstukke wat hulle op die bord rondskuif om hulle eie loopbaanpad te beplan terwyl hulle punte en geld insamel deur speletjiekaarte te beantwoord. Hulle kies uit een van ses moontlike spelerkarakters.

Hierdie karakters is ’n prokureur, ’n ouditeur, ’n belastingkonsultant, ’n rekenmeester, ’n finansiële bestuurder en ’n omkoper – heel gepas die “wolf van Paw Street” genoem. Tydens die speletjie word die agtergrondverhale van elke karakter met behulp van “blipps” aan die spelers oorgedra. Lance sê die Blippar-app wat gebruik word om die blipps te skep, verander selfone in geougmenteerde-realiteitstoestelle, en verander só die speletjie in ’n heerlike interaktiewe ervaring.

’n Ander digitale element is die gebruik van vinnigereaksie-kodes (QRC’s) om toegang tot metadata op ’n eksterne domein soos die NWU se e-leerplatform, eFundi, te verkry.

Tydens die speletjie het die spelers die geleentheid om tegniese vaardighede en kennis toe te pas en sogenaamde ontasbare vaardighede te verwerf (wat nodig is om doeltreffend met ander mense saam te werk). Die speletjie laat die studente dan beginsels van etiese gedrag en professionalisme toepas en persoonlike eienskappe en professionele vaardighede gebruik, wat alles uiteindelik lei tot ’n beter begrip van hoe om die gaping tussen die klaskamer en raadsaal te oorbrug.

Die span agter die speletjie
Veruschka en Lance is dalk die hoofontwikkelaars, maar Liike is die resultaat van ’n samewerkende navorsingsprojek onder studieleiers prof Seugnet Blignaut, ’n Suid-Afrikaanse kundige oor rekenaargesteunde onderrig, en dr Carolina Islas Sedano, ’n wêreldbekende speletjiekundige van die Universiteit van Oos-Finland.

Die samewerkers sluit in Marie Preston, Monique du Plessis, Estie Lubbe, dr Thys Swanepoel en Japie Greeff, almal lede van die NWU se Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe en die Skool vir Rekenaarwetenskappe.

Die pad vorentoe
Volgens die ontwikkelaars is ’n papierweergawe van die speletjie tans beskikbaar om tydens spel te toets, en die volgende stap sal wees om die grafika van die speletjie vir 3D-drukwerk te herontwerp. Namate die studie voortduur, sal die speletjie aan meer dosente beskikbaar gestel word om in die klaskamer te gebruik.
 
 
Die papierweergawe van die tafelspeletjie, Liike.

 

     
Speletjie-ontwikkelaars Veruschka Pelser-Carstens en Lance Bunt.

 

     
’n Paar van die elemente van die speletjie.

Submitted on Thu, 08/29/2019 - 12:14