Boek ondersoek ekonomiese toekoms ná verkiesingsuitslag

’n Boek deur ’n klompie skrywers wat deur die bekende ekonoom, prof Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, geredigeer is, wil kiesers aanmoedig en bemagtig om in hierdie kritieke verkiesingsjaar ingeligte keuses te maak.

“Daar is geen omdraaikans meer nie, en die opsies het minder geraak. Wanneer alles in ag geneem word, is Suid-Afrika nie meer by die spreekwoordelike kruispad nie, maar eerder by ’n T-aansluiting,” sê prof Parsons.

Hy is ’n medeskrywer en redakteur van die boek Tipping Point ─ turmoil or reform? . South Africa’s political economy after 2024, wat deur Jacana Media uitgegee word.

Die boek bied baie stof tot nadenke oor die onderwerp en gebruik as vertrekpunt baie belangrike vrae, soos waarom die 2024-verkiesing in onsekerheid gedompel is en waarom so baie Suid-Afrikaners daaroor bekommerd is. Dit ondersoek ook die alternatiewe politieke ekonomiese scenario’s wat kan materialiseer en die kragte wat die uitkoms daarvan sal bepaal. Dit kyk voorts na die spesifieke kenmerke van die politieke veldtogte en partymanifeste wat die kieserskorps moet navigeer.

Prof Parsons sê die 2024-verkiesing word as ’n gebeurtenis met baie op die spel beskou. Dit blyk duidelik uit die moeite wat politieke leiers en partye gedoen het om stemgeregtigde burgers oor te haal om as kiesers te registreer, en die mag wat hulle gebruik om die skaal in die rigting van hulle eie politieke uitkomste te swaai.

“Burgers moet nie net hulle reg uitoefen om te stem nie; hulle moet ook so goed as moontlik ingelig wees wanneer hulle hulle keuse oor die fundamentele elemente en gewenste uitkomste vir ekonomiese hervorming, aanspreeklikheid, transformasie en talle ander verwante kwessies maak,” waarsku prof Parsons.

Hy verduidelik dat die insigte wat in die verskillende hoofstukke gedeel word ’n waardevolle toevoeging sal wees tot wat kiesers by politieke veldtogte en ander bronne hoor. Die waarde van die boek strek egter baie verder as net ’n bron van kiesersinligting.

“Wanneer die onmiddellike uitkoms van die 2024-verkiesing bekend is, begin die werklike werk eers: om met hernude ywer en toewyding die geweldige uitdagings van werkloosheid, armoede en ongelykheid aan te pak. Dis hiervoor wat die skrywers bereikbare oplossings wil verskaf. Die boek is die gevolg van hulle nadenke.

“Teen hierdie agtergrond is daar dus instemming dat, aangesien Suid-Afrika se 2024- algemene verkiesing die belangrikste een sedert 1994 is, daar leiers met ’n hoë standaard van denke moet wees om met hierdie taak te help.”

Volgens prof Parsons dui alle bewyse daarop dat die vorm waarin die Suid-Afrikaanse politiek hom sedert 1994 bevind, gebreek moet word. ’n Meer vloeibare en lewendige politieke omgewing het onvermydelik in die land ontwikkel, tesame met ’n baie meer mededingende politieke speelveld.

Die wye strek uitkomste wat met oortuiging deur politieke gesaghebbendes aangebied word, onderstreep die vlak van onsekerheid wat die aanloop tot 29 Mei kenmerk.

Prof Parsons sluit af dat stemgeregtigdes ten volle betrokke moet wees indien hulle die verloop van die gebeure wil beïnvloed. “Hoewel die voortreflikheid van die demokrasie in die algemeen en Suid-Afrika se Grondwet in die besonder dikwels met reg geloof word, is ’n geslaagde demokrasie een wat die ekonomiese voordele lewer wat al die burgers verwag. ’n Groter, sterker en beter ekonomie is ’n onontbeerlike bastion van demokrasie in Suid-Afrika. In die finale opsomming – gedeelde ekonomiese voorspoed bly die enigste veilige waarborg van ’n demokratiese orde in hierdie land.”

’n Pitso-webinaar wat op die boek fokus, is op 4 April aangebied. Dit is deur Khaya Sithole gefasiliteer en het ’n indrukwekkende paneel kundiges betrek, insluitend prof Parsons, Isaah Mhlanga, hoofekonoom en hoof van navorsing by Rand Merchant Bank, en prof Jan van Romburgh van die NWU Besigheidskool. Die webinaar het ’n platform gebied vir sterk besprekings en ontleding en insig verskaf oor die potensiële maniere om hervorming en vordering te bewerkstellig.

Dit het die belangrikste ekonomiese en sakefaktore beklemtoon wat noodsaaklik is om ná die verkiesing op 29 Mei aan die nasionale agenda vorm te gee.

Prof Parsons het tydens die webinaar gesê dit is waarskynlik die enigste omvattende boek wat voor hierdie jaar se verkiesing geskryf is wat ’n insiggewende ontleding verskaf van die dinamiek rondom die verkiesing en wat daarna gebeur.

Isaah Mhlanga, wat ’n hoofstuk oor fiskale beleidskeuses bygedra het, het gewaarsku teen onverstandige besluite soos reddingsboeie aan ondernemings in staatsbesit en die implementering van gratis hoër onderwys. Hy het ook die ekonomiese uitdagings uiteengesit wat toenemende skuld inhou. Hy het aanbevelings oor die befondsing van die Covid-19 SRD-toelae gegee, en beklemtoon dat dit noodsaaklik is om moeilike kompromieë te tref en potensiële gevolge in gedagte te hou.

Prof Van Romburgh, wat ’n hoofstuk oor die bekamping van korrupsie in Suid-Afrika bygedra het, was optimisties. Hy het ontwikkelings aangehaal soos die Zondo Kommissie se rol om bewustheid te bevorder en deursigtigheid aan te moedig. Hy het die noodsaaklike rol van die media in die blootlegging van korrupsie beklemtoon.

Tipping Point – turmoil or reform? South Africa’s political economy after 2024 is by Van Schaik-boekwinkels beskikbaar.

.....

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die NWU Besigheidskool

....

Die boek Tipping Point ─ turmoil or reform? South Africa’s political economy after 2024 is noodsaaklike leesstof in die aanloop tot hierdie jaar se verkiesing. Hier is dit op die What’s Hot-rak by een van ons land se lughawens. Die redes wat baie goed in die boek se veertien hoofstukke vervat is, toon dat die naderende verkiesing op 29 Mei en die moontlike uitkoms daarvan, baie belangstelling en debat uitgelok het.

Submitted on Wed, 04/10/2024 - 14:51