Besige maand vir NWU se Optentia

Dit beloof om ’n besige maand te wees vir die Noordwes-Universiteit (NWU) se Optentia-navorsingsfokusarea met ’n aantal werkswinkels wat op vakkundiges, lede van die akademie en nagraadse studente gemik is.

Werkswinkel oor indiensneming en inklusiwiteit

Prof Roland Blonk – ’n buitengewone professor by Optentia – sal op 16 Oktober ’n werkswinkel aanbied met die onderwerp: “Applying individual-based behaviour models to employers’ inclusive behaviour”. Die werkswinkel sal daarop fokus om werkloses sowel as werkgewers te help om werkloosheid te bekamp, en is op Fishbein en Ajzen (2010) se geïntegreerde gedragsmodel gegrond.

Prof Blonk is ’n kundige oor werkloosheidsintervensies en is verbonde aan die Skool vir Sosiale en Gedragswetenskappe by die Tilburg Universiteit in Nederland.

Prof Roland Blonk.

Steekproefneming in die praktyk

Die sukses van enige navorsingsopname hang onder andere van die gebruik van die jongste steekproefnemingsraamwerk, die gebruik van waarskynlikheid-steekproefnemingstegnieke en die korrekte berekening van steekproefnemingsgewigte af. Daarmee in gedagte sal dr Ariane Neethling, ’n kundige statistikus, op 17 en 18 Oktober verskillende steekproefnemingstegnieke en -riglyne bespreek.

Dr Neethling is deel van ’n span by GeoTerraImages (GTI) wat ’n EA-steekproefnemingsraamwerk opgestel het en dit jaarliks met behulp van moderne tegnologie en statistiese modelle bywerk. Sy dien ook op die raad van StatsSA en bied op ’n deeltydse basis nagraadse kursusse in steekproefneming en grootdata-ontleding by die Departement van Wiskundige Statistiek en Aktuariële Wetenskap van die Universiteit van die Vrystaat aan.

Dr Ariane Neethling.

Indiensneembaarheid: ’n bekwaamheidsperspektief

Prof Jac van der Klink van die Universiteit van Tilburg se Skool vir Sosiale en Gedragswetenskappe in Nederland sal op 29 Oktober ’n werkswinkel aanbied met die titel: “Employability: a capability perspective”. Die werkswinkel vind van 09:00 tot 13:00 plaas.

Prof Jac van der Klink.

Vir meer inligting oor hierdie werkswinkels, kontak asseblief vir lynn.booysen@nwu.ac.za.  

*Die missie van die Optentia-navorsingsfokusarea is om kennis vir die optimale uitdrukking van individuele, sosiale en institusionele potensiaal, met ’n spesifieke fokus op die Afrika-konteks, te ontwikkel en organiseer.

Die navorsingsprogram benut die insette van verskillende dissiplines in die sosiale wetenskappe, insluitende sielkunde, bedryfs-/organisasiesielkunde, menshulpbronnebestuur, opvoedkundige sielkunde, sosiologie, opvoedkundige wetenskappe, arbeidsverhoudinge en maatskaplike werk.

Submitted on Tue, 10/08/2019 - 09:48