Alumnus beywer hom vir geslagsgelykheid

“Suid-Afrika se sukses – as nierassige, nieseksistiese, vooruitstrewende en verenigde land – kan slegs aan die lewensgehalte van sy vroue gemeet word.”

Só sê Vincent Kheswa, ’n alumnus van die Noordwes-Universiteit (NWU) en skrywer van die boek Is South Africa Ready For a Female President? History of African Female Leaders. Die boek is op 19 April 2018 in Rosebank, Johannesburg bekendgestel.

Volgens Vincent word vroueleiers steeds aan stereotipiese geslagsgebaseerde oortuigings blootgestel, ten spyte van Suid-Afrika se moderne sienings oor geslagsgelykheid. “Ek is daarvan oortuig dat stereotipering die potensiaal van vroueleiers in hulle strewe na sukses ondermyn,” sê Vincent, en voeg by dat vroue as ’n groep unieke vaardighede en perspektiewe na alle sfere van die samelewing bring – hetsy dit in gemeenskappe, die bedryf, korporatiewe besighede of die regering is. Sy belangstelling in vroue as leiers is aangewakker toe die moontlikheid van ’n vrouepresident in Suid-Afrika ’n paar jaar gelede die eerste keer opgeduik het.

“Die feit dat ons as land steeds daaroor debatteer of ’n vrouepresident vir die amp geskik sal wees, het my laat besef dat daar steeds baie ongemaklike gevoelens is wat geslagsgelykheid betref,” verduidelik Vincent. Hy het daarna sy navorsing oor vroueleiers binne die Afrika-konteks op sosiale media begin deel. “Tot my verbasing het die terugvoer aangedui dat die meeste gebruikers van sosiale media onbewus is van hierdie vroueleiers, en as sodanig nie die impak van hulle leierskap besef nie.” Vincent verduidelik dat mans en vroue deur die verloop van die geskiedenis verskillende leiersrolle ingeneem het wat primêr op geslagsklassifikasie berus het: mans was leiers en voorsieners, vroue was versorgers en tuisteskeppers. 

Volgens Vincent is dit van kardinale belang dat mense in die moderne samelewing nie in stereotipiese rolle ingedruk moet word nie. “’n Vrou se plek moet wees waar sy ook al kies om te wees. Die aanvaarding van geslagsgelykheid verseker dat hulpbronne suksesvol tot voordeel van die samelewing aangewend word, en dat optimale geleenthede beskikbaar is vir mans sowel as vroue om aan besluitneming deel te neem,” sê Vincent.

*Vincent het aan die NWU se kampus in Vanderbijlpark gegradueer met ’n BSc-graad in bedryfswiskunde en informatika (BWI) en is tans ’n kodeskrywer vir Standard Bank in die Persoonlike Besigheidsbank Suid-Afrika-afdeling. Hy is bekend as digter, skrywer, openbare spreker, liedjieskrywer en opnamekunstenaar. Vincent is ook ’n lid van die Vanderbijlpark-kampus se Alumni-advieskomitee.

Vincent Kheswa, ‘n NWU-alumnus, beywer hom vir geslagsgelykheid.

 

 

 

Submitted on Mon, 05/07/2018 - 10:18