Agterplaastuin-vennootskap skiet wortel – betyds vir Nelson Mandela-dag

In ’n tyd waar voedselonsekerheid ’n dwingende bekommernis is, bied gemeenskapstuine ’n praktiese oplossing deur toegang tot vars, voedsame kos te verhoog. Hierdie tuine bemagtig individue en gemeenskappe om beheer van hulle voedselproduksie te neem, en om die afhanklikheid te verminder van duur en dikwels ongesonde voedselalternatiewe wat by die winkel gekoop word. 

Dit alles word by die tema van Nelson Mandela-dag van 2023 ingesluit, wat rondom voedsel en voeding sentreer, en almal aanmoedig om “te doen wat julle kan met wat julle het, waar julle ook al is”.

Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering (SALGA) het vroegtydig ’n paar saadjies geplant en met verskeie belanghebbers aan ’n agterplaastuinprojek by ’n laerskool in Potchefstroom saamgewerk.

SALGA het op 14 April 2023 die projek by Bert’s Bricks Primêre Skool van stapel gestuur. Die leerders en verteenwoordigers van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Eenheid vir Omgewingswetenskappe en Bestuur, ’n span van die vakgroep Sosiale Antropologie, Assupol, Sanlam, die Noordwes Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling en die Onderwysdepartement, het saam groentesaad gesaai en vrugtesaailinge en inheemse bome geplant. Onderwerpe soos voedselsekerheid, klimaatsverandering en die belangrikheid van agterplaastuine is ook bespreek.

“Veronderstel daar is ’n gesin wat 10 mense moet voed, en hierdie bossies spinasie wat hier gekweek gaan word, kan met daardie familie gedeel word sodat elke lid van die gesin iets het om te eet voordat hulle gaan slaap,” het Desiree Tlhoaele van SALGA gesê.

Dr André Goodrich van die NWU se vakgroep Sosiale Antropologie het die belangrikheid van ’n projekgebaseerde kurrikulum beklemtoon. “Met ’n tuin soos hierdie is daar amper niks wat ’n mens nie met behulp daarvan kan leer nie, want in hierdie grond sal jy Suid-Afrika se geskiedenis, biologie en chemie vind. Deur die tuin en die produkte by die maatskaplike stelsels te integreer, verskaf ons meer kennis en vaardighede waarby die skool kan baat.”

Prof Nomali Ngobese van die NWU se Skool vir Geo- en Ruimtelike Wetenskappe het die leerders toegespreek en oor die voordele van kompos gepraat en hulle aangemoedig om aan die tuinbou-aktiwiteite deel te neem.

“Om ‘n groentetuin te begin is ʼn wonderlike manier om skoliere te leer hoe om hulle eie kos te produseer en basiese landbouvaardighede oor te dra. Die skoliere ontwikkel ʼn sin vir verantwoordelikheid deur na plante om te sien en hulle tot volwassenheid te monitor,” het prof Ngobese gesê.

Lehlohonolo Mofokeng, hoof van die Bert's Bricks Primêre Skool, het almal bedank vir hulle betrokkenheid om die tuin te skep, wat ’n uitstekende geleentheid vir leerders sal verskaf om by praktiese ervaringsleer betrokke te raak. Hy het ’n spesiale woord van dank uitgespreek teenoor Pia Bombardella van die vakgroep Sosiale Antropologie vir haar betrokkenheid en toewyding.

Dit was ’n vrolike atmosfeer toe die formaliteite afgesluit is, waarna van die leerders begin het om die verskafte plantjies te plant.

Lehlohonolo Mofokeng, hoof van Bert’s Bricks Primêre Skool, saam met al die ander rolspelers voordat hulle hul hande vuil kry vir ʼn goeie doel.

Die plantjies wat daardie dag geplant is.

Lehlohonolo Mofokeng, skoolhoof van Bert’s Bricks Primêre Skool bedank al die rolsspelers.

Dr André Goodrich, prof Nomali Ngobese, prof Roelof Burger en Pia Bombardella geniet die geleentheid.

Submitted on Tue, 07/04/2023 - 11:10