“Beur voort en hou aan glo” – Prof Linda du Plessis

“Waak daarteen om uitdagings bloot as  nadelig te sien. Dit is belangrik om te weet dat deur probleme proaktief aan te spreek en te oorkom, jy in die proses waardevolle lewenslesse leer. Uitdagings en swaarkry leer ons deursettingsvermoë, volharding en aanpasbaarheid”. Dit is die boodskap wat prof Linda du Plessis, waarnemende kampusrektor van die Vanderbijlparkkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU).

Sy sê voorts aan die lede van die uitgebreide kampusgemeenskap:

Dit is met ʼn gevoel van groot dankbaarheid wat ons soggens afkyk na ‘n vol rivier wat in die oggendson skitter, terwyl dit lekker sterk vloei na al die reën waarmee ons die afgelope tyd geseën is. Dit is moeilik om te dink dat ons in ʼn kwessie van twee of drie maande vanaf uiterse droogte en waterbeperkings, na ʼn propvol Vaaldam en oorvloed water gegaan het. Hierdie water hou vir ons ʼn kosbare lewensles in: maak nie saak hoe erg die droogte of uitdaging is nie, ons word genoodsaak om voort te beur en aan te hou glo dat ons ook dié struikelblokke sal oorkom.

Met menseregte op die agenda hierdie maand, kan ons met trots sê dat ons weereens uitsien na ʼn gradeplegtigheid waar ʼn studentegemeenskap ‘n ware weerspieëling van ons land en sy demografiese samestelling sal verteenwoordig, hulle grade sal ontvang. Ons is trots op elkeen van hierdie studente: ‘n totaal van 1 664 graduandi.

Die navorsingsuitsette sover dui op ʼn toename in kwaliteit, internasionale publikasies en ook ʼn toename in die uitsette per kapita. Hoewel die finale resultate eers na afloop van ʼn oudit in Mei beskikbaar sal wees, lyk dit sover baie belowend.

Die NWU Vaal Alumni-ontbyt was weereens ʼn hoogtepunt op ons dorp se sakekalender. Alumnus, Ettienne le Roux het weereens bewys dat hy een van Suid-Afrika se top ekonome is en sy bande met sy alma mater gevier. Dit is op sulke geleenthede wat ons ʼn kans kry om ons alumni, wat tans groot skoene in die sakewêreld vol staan, terug in ons midde te verwelkom. So kan ons hulle ook pro-aktief betrokke kry in die rol wat ons speel in die opleiding van ons toekomstige leiers en in die impak wat ons in die gemeenskap wil maak.

 

 

 

Submitted on Fri, 03/10/2017 - 12:16