Xena en hierdie visparasiet het baie gemeen

Marelize Santana -- Wed, 07/24/2019 - 11:25

Xena en hierdie visparasiet het baie gemeen

In die laat 1990’s en vroeë 2000’s het Xena die krygerprinses televisieskerms regoor die wêreld oorheers. Sy was bekend vir haar sterk persoonlikheid en geliefd as gevolg van haar lewendigheid en gevegsvermoë.

Toe Serita van der Wal, ’n meestersgraadstudent aan die Noordwes-Universiteit (NWU), dus ’n parasitiese Cymothoida-vis-isopod na die televisiekarakter vernoem, moes ons net uitvind hoekom.

Xena, ’n sterk kryger
Dit is nie elke dag dat ’n nuwe spesie ontdek word nie, en wanneer hierdie seldsame gebeurtenis plaasvind, word baie moeite met die benoeming daarvan gedoen. Onder toesig van prof Nico Smit en dr Kerry Hadfield van die Eenheid vir Omgewingswetenskappe en -bestuur het Serita die naam Xena gekies om na die sterk persoonlikheid van die vroulike Cymothoida-isopod te verwys.

Cymothoida-isopode is parasiete wat hulleself aan verskeie seevisspesies vasheg en is redelik groot vergeleke met sommige van die ander visparasiete. Isopode van die genus Elthusa word gewoonlik in die kiewe van hulle visgashere aangetref. Elthusa xena, wat deur Serita ontdek is, is in die monding van die Oranjerivier uit die tussengety-superklipvis (Clinus supercilious) verwyder.

“Dit is die eerste rekord van ’n spesie van Elthusa wat ’n klipvis uit die genus Clinus as gasheer het,” sê dr Hadfield.

Van een tot vier
Voor Serita se navorsing was daar slegs een Elthusa-spesie in Suid-Afrika bekend. In haar studie oor Elthusa xena het sy ook die vorige bekende spesie (Elthusa raynaudii) weer beskryf en gevind dat daar twee bykomende nuwe spesies is, wat E. acutinasa en E. rotunda genoem is.

Serita was nie hiermee tevrede nie, en het toe ’n gedetailleerde tabel saamgestel in ’n referaat wat sy geskryf het en voorheen bekende spesies van Elthusa, insluitend hulle verspreiding, gasheer en verwysings, opgesom. “Dit is om met toekomstige studies van die genus te help,” sê dr Hadfield.

Serita het intussen ’n geleentheid gekry om haar PhD in Duitsland te doen, en woon tans in München. Sy sal ongetwyfeld in haar navorsingsreis in die toekoms nog talle ontdekkings doen.

Xena die visparasiet.

Serita van der Wal.

#NWUVroue