Wiskundige deel kundigheid in Maleisië

Marelize Santana -- Wed, 03/29/2017 - 15:48

Wiskundige deel kundigheid in Maleisië

Prof Jamshid Moori, wiskundige en navorsingsprofessor van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Mafikengkampus, is onlangs genooi om ’n rede by die vierde konferensie van die Biannual International Group Theory Conference (BIGTC) in Kuala Lumpur te lewer.

Jamshid, van die Skool vir Wiskundige Wetenskappe in die Fakulteit Landbou, Wetenskap en Tegnologie, was een van twee hoofsprekers by die konferensie, wat vanaf 20 tot 27 Januarie hierdie jaar by die Universiti Teknologi Malaysia (UTM) gehou is.

“Die doel van die konferensie was om navorsingsidees onder die groep teoretici en nagraadse studente uit verskeie lande uit te ruil,” sê Jamshid. “Dit was ’n groot eer om deur die internasionale organisasiekomitee genooi te word.”

Hy sê dat spesialiste in groepteorie hulle jongste navorsing aangebied het, oop probleme uiteengesit het en belangstellende jong navorsers en studente aangemoedig het om hulle kennis van die vak en sy toepassings tydens die konferensie te bevorder en verbreed.

Die jongste navorsingsresultate aangebied
Jamshid het sy jongste navorsingsresultate aangebied in ’n toespraak getiteld “Designs and Codes from Finite Groups”. Prof Mark Lewis van die Kent State University in Amerika het die tweede hoofrede, “Semi Extra Special p-Groups”, gelewer.

Daar was ook 12 genooide sprekers van die Verenigde Koninkryk, Verenigde State van Amerika, Rusland, Iran, Turkye, Maleisië en Indonesië.

’n Verdere 35 sprekers – die meeste van hulle jong navorsers en nadoktorale en nagraadse studente – het tydens twee parallelle sessies gepraat. “Dit was wonderlik om een van my nadoktorale studente, dr AB Basheer, oor Fischer-Clifford-matrikse te hoor praat.”

Hy sê die konferensie was ’n onvergeetlike gebeurtenis. “Dit is altyd goed om ander akademici en navorsers van regoor die wêreld te ontmoet en met hulle te gesels, en ’n beter begrip van die vak en veld van Wiskunde en sy verwante gebiede te ontwikkel.”

Die konferensie het geëindig met ’n eendag-uitstappie na interessante plekke in Kuala Lumpur en Putrajaya.
 

Prof Jamshid Moori (regs) ontvang ’n sertifikaat van deelname aan die Biannual International Group Theory Conference van prof MRR Moghaddam, voorsitter van die hoofsessie.