Waterwys swartbekboontjie het baie potensiaal

Marelize Santana -- Mon, 04/15/2019 - 12:01

Waterwys swartbekboontjie het baie potensiaal

In ’n land wat met watervoorsiening sukkel, het die Noordwes-Universiteit (NWU) ’n swartbekboontjieplant gevind wat nie baie water nodig het vergeleke met ander veldgewasse nie.

Hierdie besondere swartbekboontjie is inheems aan Suider-Afrika en die NWU sal die eerste instelling ter wêreld wees wat dit aan die wetenskaplike gemeenskap bekendstel. Dit word in klein gebiede om Mafikeng, Lehurutshe, Kuruman en Botswana aangetref. Die gewas het verskillende name in die verskillende streke, soos Mae a Tsilwana en Ggopo tsa Nare.

Dit kan nie op groot skaal verbou word nie omdat die saad baie skaars is. In die meeste gevalle maak boere of gemeenskapslede seker dat hulle die saad van hulle vorige oes veilig bewaar sodat hulle dit weer in die volgende seisoen kan plant.

Baanbrekernavorsing
Rose Semenya, ’n meestersgraadstudent op die kampus in Mahikeng, is tans besig om onder studieleiding van dosente Motlogeloa Mokolobate en dr Khosi Ramachela van die Skool vir Landbouwetenskappe te kyk watter agronomiese faktore hierdie swartbekboontjie kan beïnvloed.

Haar navorsing ondersoek die manier waarop verskillende plant- en ryspasiëring die opbrengs sal beïnvloed, en watter effek die verskillende tipes mikro-elemente op knoppiesvorming het.  

Volgens Motlogeloa het een kilogram saad die potensiaal om ’n hektaar grond te beplant, wat die koste van saad en bemesting drasties verminder. As gevolg van die swartbekboontjie se welige plantegroei, bedek dit die hele grondoppervlak en verminder gronderosie, wat ’n groot probleem in Noordwes is.  

Die NWU-navorsers van die vakgroep Dierewetenskappe doen ook navorsing om vas te stel of beeste en ander diere die plant kan vreet. Motlogeloa voeg by dat hierdie swartbekboontjie se blare en sade ’n groot potensiaal vir verbruik deur mense en diere inhou.

Na afhandeling van hierdie navorsing wil die NWU graag hierdie saad in ander areas plant om te kyk hoe dit onder verskillende klimaatstoestande vaar.

Lindiwe Mashele, ’n NWU-student, by die swartbekboontjieplant.