Wanneer sake-idees vlerke kry

Belinda Bantham -- Tue, 12/04/2018 - 16:08

Wanneer sake-idees vlerke kry

Het jy al ooit gewonder hoe dit sou wees om aan die gewilde televisieprogram Shark Tank, of die Britse weergawe genaamd Dragon’s Den deel te neem waar entrepreneurs hul sake-idees aan ‘n paneel beleggers voorlê?

Sestien studente van die Noordwes-Universiteit (NWU) en die Vaal Universiteit van Tegnologie het onlangs presies dit beleef. Hulle het aan die NWU se eie weergawe van hierdie kompetisie, genaamd Leopard’s Lair, deelgeneem.

Volgens die projekleier, FR Bezuidenhout, is die doel van Leopard’s Lair om studente-entrepreneurskap te stimuleer deur hul besigheidsidees te ondersteun wat tot voordeel van die samelewing kan strek en tot werkskepping kan lei.

Leopard’s Lair is 'n unieke entrepreneurskompetisie waar die NWU se departement vir tegnologie-oordrag en innovasiesteun en die Fakulteit Ingenieurswese studente deur entrepeneurskap en innovasie ondersteun,” sê hy.

“Ons het vanjaar baie innoverende idees gesien en ek is seker dat talle van hierdie konsepte in suksesvolle besighede kan ontwikkel. Dit is vir my en die NWU 'n groot eer om te deel in die ontwikkeling van ons jeug se inspirerende innovasies.”

Bloedsweet, angs, stres en harde werk het tot 92 sake-ideeprojekte gelei wat vroeër vanjaar aan ʼn paneel van akademiese-, industrie- en sakekenners voorgelê is. Uiteindelik is 15 projekte as finaliste aangewys.

Die kompetisie se finale rondte het op die NWU se kampus in Potchefstroom plaasgevind, waar deelnemers die geleentheid gehad het om hul projekte binne vyf minute aan vyf beoordelaars voor te lê. Hulle moes wys wat in hulle steek om die prysgeld van R100 000 – wat tussen die eerste, tweede en derde plek gedeel word – los te slaan.

Die finale rondte is regstreeks op YouTube gestroom. Onder die finaliste was daar sweterige hande, koue rillings en heesheid toe hulle die onderhoudskamer met sy skerp ligte, kameras en intimiderende beoordelaars betree het.

Die finaliste het nie teleurgestel nie en het verskeie innoverende projekte voorgelê. Dit het onder andere 'n selfoontoepassing ingesluit wat daarop gemik is om die hoë werkloosheidsvlak onder graduandi te verminder deur hulle aan internskapgeleenthede bloot te stel om werkservaring op te doen.

Nog 'n projek was ʼn gebeurtenis-toep wat gebruikers toelaat om nabygeleë geleenthede te lys en te sien.

ʼn Ander deelnemer het 'n opvoedkundige webwerf ontwikkel wat aan studente akademiese ondersteuning bied deur middel van video's, aantekeninge, flitskaarte en mini-toetse wat met die studente se studierigtings verband hou.

Find-X was nog ‘n idee waar 'n motoropsporingsapparaat met 'n slimfoonprogram geïntegreer is. Dit stel die eienaar in kennis as iemand probeer om die apparaat te deaktiveer of die motor te steel.

Selfs 'n skoonmaaktoestel vir toilette het die finale rondte gehaal. Hierdie toestel werk op dieselfde manier as 'n skottelgoedwasser of wasmasjien, maar is hidroulies aangedrewe en draagbaar.

Op die uiteinde het Boitshepo Gopane, 'n meestersgraadstudent in mikrobiologie aan die NWU se kampus in Mahikeng, met die louere weggestap.

Die hoofdoel van haar wenprojek genaamd WeClean Recycling is om droë afval soos papier, plastiek, glas en metale te herwin. Dit word dan gesorteer, herverpak en weer aan herwinningsmaatskappye verkoop.

Boitshepo beplan om haar onderneming in die Mahikeng-omgewing te begin waar sy werkers in diens sal neem om droë afval te versamel deur pasgemaakte fietse met afhaalbare sleepwaentjies te gebruik. Indien die sukses van die projek dit toelaat, sal dit in naburige dorpe en provinsies geïmplementeer word.

Boitshepo se prysgeld van R50 000 sal belê word in die ontwikkeling en implementering van haar projek. Sy sê dat baie ure se harde werk is in hierdie projek belê is. “Ek glo in geluk – maar geluk gebeur nét wanneer harde werk en geleenthede mekaar ontmoet,” sê sy. “Baie dankie vir hierdie geleentheid. Ek kan nie wag om hierdie sake-idee die vlerke te gee wat dit nodig het om te vlieg nie.”

Die borge van vanjaar se kompetisie het onder andere Kisch Prokureurs en Bhive – die NWU se Ondernemingsontwikkelingsentrum – ingesluit.

Klik hier om na ʼn opname van vanjaar se Leopard’s Lair-kompetisie te kyk: https://www.youtube.com/watch?v=auTE0Cmgr9M

 

Die drie wenners van die NWU se Leopard’s Lair-kompetisie is Olwethu Mvelo (derde plek), Sydwell Sihlangu (naaswenner) en Boitshepo Gopane (wenner).