Vroue in die kunste in kollig

Belinda Bantham -- Thu, 03/16/2017 - 10:06

Vroue in die kunste in kollig

Vroue in die kunste is tans die fokus van kunswerke in die Noordwes-Universiteit (NWU) se kunsgalery op die Potchefstroomkampus.

Die Galery, in samewerking met die Nasionale Museum van Vroue in die Kunste in Washington DC, plaas vandeesmaand die kollig op werke van vrouekunstenaars, sowel as op die werke van vroue wat die NWU in sy permanente kunsversameling het.

Die bestuurder van die Galery, me Christina Naurattel, sê hulle is ook deel van die wêreldwye veldtog op sosiale media, #5WomenArtists, waar mense uitgedaag word om die vraag, “Kan jy vyf vrouekunstenaars noem?”, te beantwoord. Sy sê bitter min mense kan dit egter doen.

“Dit is ʼn eenvoudige vraag met ʼn moeilike antwoord. Vrouekunstenaars het nog nie die nodige erkenning van institusionele en opvoedkundige instellings ontvang nie. Ons doel met die uitstalling is om die talle gesprekke oor geslagsgelykheid in die kunste te versterk.”

Die uitstalling is op Internasionale Vrouedag op 8 Maart geopen waartydens besoekers met heerlike koffie en koek bederf is. Die uitstalling duur tot die einde van die maand.

Naurattel sê ander instansies in Los Angeles, Illinois, Boston, New York, Houston, asook organisasies in Australië, Kanada, Duitsland, Swede, Switserland en die Verenigde Koninkryk neem ook aan die veldtog deel.

Volg ook die NWU Galery op sosiale media vir meer inligting oor die #WomenArtists-veldtog.

  Drie studente het die uitstalling in die Galery bygewoon, Jeanett Mosala, Isabelle Smit en Inga.