Voorsitter van NWU Raad neem die voorsitterstoel by internasionale konvensie in

Belinda Bantham -- Wed, 05/30/2018 - 11:24

Voorsitter van NWU Raad neem die voorsitterstoel by internasionale konvensie in

Die voorsitter van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Raad, dr Bismark Tyobeka, het as voorsitter by die oorsigvergadering van die sesde gesamentlike konvensie van die Internasionale Atoomenergieagentskap (IAEA) opgetree.

Die vergadering oor die veiligheid van die bestuur van gebruikte brandstof en radioaktiewe afval het op 21 Mei in Wene, Oostenryk begin en sluit op 1 Junie af.

Dr Tyobeka, wat die hoof uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Nasionale Kernreguleerder is, is in Mei verlede jaar as voorsitter van die oorsigvergadering van die sesde IAEA gesamentlike konvensie verkies en tree in Wene in hierdie hoedanigheid by die vergadering op. In kernkragkringe word dit as ’n groot eer vir Suid-Afrika beskou. 

Dr Tyobeka, wat in 2017 as voorsitter van die NWU Raad verkies is, het al vele toekennings ontvang en was in 2013 ’n ontvanger van die NWU se gesogte Alumni-toekenning.

As voorsitter van die oorsigvergadering werk dr Tyobeka nóú saam met sy kollegas van die gesamentlike konvensie om konstruktiewe besprekings aan te moedig oor sleutelkwessies wat die deelnemers aan die konvensie moet hanteer. Hy skakel met streeksnetwerke om die IAEA-lidlande wat nie alreeds deelnemers in die gesamentlike konvensie is nie, te help om hierdie status te verwerf.

Veilige bestuur is noodsaaklik

In sy openingswoord by die gesamentlike konvensie het hy die belangrike bydrae beklemtoon wat kerntegnologie en radioaktiewe materiaal in die moderne samelewing lewer.

“Namate die gebruik van kerntegnologie, radioaktiewe materiaal en radioaktiewe bronne toeneem, kan die veilige bestuur van gebruikte kernbrandstof en radioaktiewe afval wat uit hierdie aanwendings voorspruit – om die beskerming van mense, eiendom en die omgewing te verseker – nie oorbeklemtoon word nie. Die breër samelewing se vertroue dat die voortgesette en uitgebreide aanwending van kerntegnologieë veilig sowel as volhoubaar is, moet verdien word.”

Die gesamentlike konvensie is die eerste internasionale, regtens bindende instrument op die gebied van die veilige bestuur van radioaktiewe afval en gebruikte brandstof. ’n Internasionale eweknie-beoordelingsproses tussen deelnemers het tot stand gekom. Nasionale verslae oor hulle werk ingevolge die konvensie word voorgelê sodat ander partye dit kan nagaan in ’n proses wat daarop gemik is om deurlopende verbetering aan te moedig.

Afgevaardigdes van die meeste van die 78 deelnemende partye het die vergadering bygewoon om hulle eweknieë se werk na te gaan sodat hulle verpligtings ingevolge die konvensie nagekom kan word.

Oorsigvergaderings word elke drie jaar gehou. Nege lande, naamlik Botswana, Kuba, Jordanië, Lesotho, Madagaskar, Mexiko, Niger, Peru en Serwië, het sedert die laaste vergadering, wat in 2015 gehou is, as partye tot die konvensie toegetree. Suid-Afrika het in 2006 deel van die gesamentlike konvensie geword.

Dr Bismark Tyobeka, hoof uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Nasionale Kernreguleerder en die voorsitter van die NWU Raad, sê dat dit noodsaaklik is om te verseker dat gebruikte brandstof en radioaktiewe afval veilig bestuur word. “Daar is ’n deurlopende behoefte om die vertroue van die samelewing te verdien deur veilige en volhoubare aanwendings van kerntegnologieë uit te brei.”