Voedingsnetwerk is op die Afrika-kaart

Belinda Bantham -- Thu, 03/22/2018 - 14:08

Voedingsnetwerk is op die Afrika-kaart

Die Afrika Voeding leierskapsprogram (African Nutrition Leadership Programme – ANLP) het sy voetspoor al in 36 van die 52 lande in Afrika.

Dié opleidingsprogram van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Sentrum van Uitnemendheid vir Voeding (SUV) word sedert 2002 aangebied en het reeds ʼn netwerk van 350 professionele deelnemers in die voedingsveld regoor Afrika geskep.

Prof Johann Jerling, navorser van die SUV, sê die program is die intensiewe ontwikkeling van individue se leierskapseienskappe. “Hierdie individue kom almal uit die breër veld van voeding.”

Hy sê oor die jare het daar ʼn groot wedywering ontstaan om plek in die gewilde program te kry. “Ons adverteer in Augustusmaand en ontvang tot 140 aansoeke, wat ons met ʼn keuringsproses verminder tot sowat 30 mense. Vanjaar het ons vir die eerste keer ʼn deelnemer uit Liberië.”

Die program word jaarliks vir 10 dae by die Elgro River Lodge naby Potchefstroom aangebied.

Johann sê die primêre doel is om mense iets van hulself te laat ontdek en nie noodwendig om die leer van sukses te klim nie. “Ons boodskap is ook duidelik om te sê lei van waar jy is, moenie wag tot jy boaan die voedselketting is nie.”

Hy vertel van een van die deelnemers, Anna Lartey van Ghana, wat die program in 2002 voltooi het. Sy was ʼn dosent by die Universiteit van Ghana en beklee tans een van die belangrikste poste in die Verenigde Nasies se voedsel- en landbouprogram. Anna het hulle vertel dat as sy nie hier was nie, sy haarself nooit as ʼn leier sou beskou het nie.

Die ANLP het al ʼn alumni-netwerk van sowat 400 mense in Afrika opgebou wat volgens dr Christine Taljaard, ʼn postdoktorale genoot by die NWU, uiters lojaal teenoor die program is. Sy sê hulle is ʼn baie groot aktiewe werkende groep en die netwerk wat opgebou is kon hulle ook al gebruik om inligting vir ander Europese lande in te samel.

Johann sê die program het ook reeds talle ander uitvloeisels want weens die kontakte wat hul met die program gevestig het, het hulle werk in talle ander lande soos Kenia, Zambië, Mosambiek en Rwanda gedoen. In Kenia het hulle gehelp met die bekendstelling van die verpligte voedselsekuriteit via ʼn gefokusde leierskapsontwikkeling-intervensie met die Keniaanse Nasionale Voedelsekerheid Alliansie.

“Ons is tans besig om programme in Zambië en Mosambiek te ontwikkel. Daar is ʼn reusagtige groot behoefte in Afrika aan leiersvaardighede en hierdie program het nog baie ruimte om uit te brei.”

Johann sê ʼn ander voordeel van die ANLP is dat hulle ook mense kry om hul nagraadse kwalifikasie aan die NWU te behaal.

 Die groep kursusgangers wat vanjaar se program bygewoon het.