Vir navorsers, deur navorsers en met navorsers

Belinda Bantham -- Mon, 12/10/2018 - 15:33

Vir navorsers, deur navorsers en met navorsers

Die Sanlam Ouditorium op die kampus in Potchefstroom het van opgewondenheid gegons toe 500 navorsers van die Noordwes-Universiteit (NWU) die eerste tweejaarlikse konferensie oor navorsing en innovasie bygewoon het.

Die konferensie, wat die breinkind is van prof Refilwe Phaswana-Mafuya, adjunk-visekanselier vir navorsing en innovasie, het van 27 tot 29 November 2018 plaasgevind.

Die tema vir hierdie jaar se geleentheid was die posisionering van die NWU vir navorsings- en innovasie-uitnemendheid, sigbaarheid en impak: die maksimalisering van suksesse, sterk punte en geleenthede.

Tydens die konferensie het die NWU se navorsers die geleentheid gehad om te leer oor en al die wonderlike navorsing en innovasie te deel en uit te ruil wat institusionele, nasionale en internasionale toekennings aan die universiteit besorg het.

Sy majesteit koning Kgosi Leruo Molotegi van die Koninklike Bafokeng-nasie en kanselier van die NWU het ’n inspirerende intree-openingstoespraak gelewer. Hy het ook die meer as 40 stalletjies met uitstallings besoek wat die NWU se uitstekende navorsing- en innovasieprojekte vertoon het.

Met meer as 50 sprekers uit verskillende fakulteite, organisasies en instellings was hierdie konferensie ongeëwenaard. Van die sprekers was prof Ahmed Bawa, hoof- uitvoerende beampte van Universiteite Suid-Afrika, prof Jonathan Jansen, voorsitter van die Akademie vir Wetenskap van Suid-Afrika, en prof Stephanie Burton, adjunkhoof vir navorsing en nagraadse studies aan die Universiteit van Pretoria. Ander sprekers was mnr Imraam Patel, adjunk-direkteur-generaal van die Departement van Wetenskap en Tegnologie, dr Phethiwe Matutu, die NNS se groep- uitvoerende beampte vir strategiese beplanning, mnr Chief Mabizela, hoofdirekteur: DHOO, en prof Olu Babbalola, ondervoorsitter van die Organisasie vir Vroue in Wetenskap in die Ontwikkelende Wêreld.

 “Talle mense het tydens die sessies ook met mekaar gesels,” sê prof Anel du Plessis, SARChI-leerstoel by die Fakulteit Regte. “Ek het met kollegas en nagraadse studente in ons fakulteit gesels wat beslis nuwe bande gesmee het en waardevolle insig in die navorsingslandskap van ons universiteit en die land verkry het.”

 “Hierdie konferensie was ’n geweldige spanpoging wat al die leiers in die fakulteit, die portefeuljedepartemente en hulle personeel, asook vrywilligers van die nagraadse studente betrokke gekry het, en wat onvermoeid gewerk het om die konferensie te laat slaag,” sê prof Phaswana-Mafuya. “Ek wil graag die visekanselier, prof Dan Kgwadi, bedank. Sonder sy visionêre leierskap, onbevooroordeeldheid, strewe na positiewe verandering en vertroue in my sou hierdie geleentheid nie plaasgevind het nie.

 “Ek voel ook uiters geseënd en hoogs bevoorreg om saam te werk met so ’n kader van nasionaal- en internasionaal-gerekende navorsers en innoveerders wat ’n verskil op hulle onderskeie gebiede maak.” 

Die hele wêreld kon deur middel van lewendige videostroming by die konferensieverrigtinge inskakel.

Prof Kgwadi het ook vir prof Phaswana-Mafuya en haar span gelukgewens met ’n taak wat goed uitgevoer is.

 

 Hier is, van links, prof Awie Kotzé, uitvoerende dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, dr Phethiwe Matutu, die NNS se groep- uitvoerende beampte, Kgosi Leruo Molotlegi, NWU se kanselier, prof Refilwe Phaswana-Mafuya, adjunk-visekanselier vir navorsing en innovasie, en mnr Chief Mabizela, hoofdirekteur by die DHOO.