Verdere verlaging in rentekoerse is nog waardevolle verligting

Belinda Bantham -- Fri, 05/22/2020 - 12:53

Verdere verlaging in rentekoerse is nog waardevolle verligting

Die Monetêre Beleidskomitee (MBK) het die repokoers met ʼn verder 50 basispunte op 21 Mei verlaag. Prof Raymond Parsons, bekende ekonoom en akademikus van die NWU Besigheidskool, sê dit onderstreep die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se voorneme om in die lig van die ekonomiese impak van die verlengde Covid-19-inperking die nodige monetêre steun te verskaf.

“Monetêre beleid is nie ’n ‘silwer koeël’ om die ekonomiese skade om te keer wat deur die verlengde staat van inperking tydens die pandemie veroorsaak word nie. Met die risiko’s vir inflasievooruitsigte wat nou redelik laag is, kon die SARB egter nou sedert die begin van 2020 die koste van lenings aggressief met ongeveer een-derde verlaag.”

Volgens Prof Parsons bied ’n verdere verlaging van 50 basispunte in leenkoste vir besighede en verbruikers in nood dus waardevolle verligting onder die huidige ekonomiese omstandighede. Dit is nieteenstaande die verdere uitfasering van die staat van inperking aan die einde van Mei.

Hy sê die SARB se voortgesette steun van oorkoepelende likiditeit in die ekonomie en in die bankstelsel is ook welkom in die lig van die ernstige kontantvloeiprobleme wat deur besighede en huishoudings ervaar word.

“Die MBK het weer eens sy groeivoorspelling vir 2020 hersien – na -7% vanaf -6.1%, wat diep in die resessiegebied is.”

Prof Parsons sê hierdie voorspelling is dalk steeds te optimisties, en BBP-groei kan so laag as -10% tot -13% wees, met wydverspreide besigheidsluitings en werkloosheid wat vinnig styg.”Die doeltreffendheid van monetêre beleid self word ook beïnvloed, nie net deur die tempo waarteen die inperking verlig word nie, maar ook ten opsigte van hoe doeltreffend ander maatreëls vir ekonomiese ondersteuning geïmplementeer word.”

Volgens hom dui die MBK se ekonomiese evaluering ook daarop dat beter besluitneming oor die verligtingstrategie vir die inperking kan plaasvind indien daar, benewens die belangrike daaglikse nuus oor openbare gesondheid, ook nou gekonsolideerde gereelde ekonomiese verslae verskaf kan word.

“Hierdie verslae kan weeklikse bywerkings deur die Nasionale Tesourie of Stats SA insluit, met data oor werkverliese, besigheidsluitings en verlore belastinginkomste om ’n gebalanseerde perspektief te verskaf oor die suksesvolle bestuur van Covid-19 in die maande wat voorlê.”