Van Potchefstroom na Afrika

Belinda Bantham -- Mon, 07/08/2019 - 15:21

Van Potchefstroom na Afrika

Maggie Jasson van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Opvoedkunde het bewys dat skoonheidskompetisies nie net oor skoonheid gaan nie.

Hierdie 45-jarige het die finale rondte gehaal van die Mev Afrika-kompetisie wat ’n platform wil skep waar die unieke kwaliteite van vroue in Afrika aan die wêreld getoon kan word.

Daar is vyf kategorieë in die kompetisie, en Maggie is ’n finalis in die Mev Afrika Klassiek-kategorie vir vroue tussen die ouderdom van 40 en 69 jaar.

 “Die Mev Afrika-kompetisie gaan nie net oor skoonheid nie,” sê Maggie.  “Dit gaan ook daaroor dat jy vir jou gemeenskap en die land omgee en iets aan hulle teruggee.

 “Ek wou ’n platform gehad het waar ek met meer mense in aanraking kon kom en iets tot hulle welstand bydra,” sê sy.  

Maggie sê sy is uiters gelukkig, oorstelp en geëerd om tot die finale rondte te kon deurdring, veral omdat ’n aantal ander Suid-Afrikaanse vroue ook deelneem.

Sy sal in die kompetisie se finale rondte, wat vanaf 24 Oktober tot 3 November by die ATKV Buffelspoort-oord naby Rustenburg plaasvind, teen 50 vroue van regoor die vasteland deelneem.

 “Mense van my ouderdom is geneig om te maklik moed op te gee. Ek hoop dat my deelname ’n positiewe impak op almal sal hê – nie net in my gemeenskap nie, maar ook in die hele Potchefstroom. Daar is talle jongmense wat na ons opsien, en ons moet alles in ons vermoë doen om hulle te inspireer,” sê sy.

Vir die liefde van modelwerk

Maggie het aan skoonheidskompetisies deelgeneem toe sy in die hoërskool was, en daarmee opgehou nadat sy gematrikuleer het. “Ek was nog altyd mal oor modelwerk, maar toe ek jonger was, was daar ’n wanopvatting dan net lang vroue modelle kan wees, dus het ek ná my matriekjaar aan geen skoonheidskompetisies deelgeneem nie.

 “My liefde vir skoonheidskompetisies het egter deur die jare nooit afgeneem nie, en ek het begin sien dat al hoe meer kort vroue vir skoonheidskompetisies inskryf. Ek het toe besluit om in te skryf, en deur die Here se genade het ek die finale rondte gehaal,” sê sy.

Maggie het verlede jaar vir ’n skoonheidskompetisie by Crystal Church Ministries ingeskryf en as Mrs Conqueror in die top drie geëindig. Dit is toe sy besluit het om haar passie uit te leef en dat sy vir Mev Afrika ingeskryf het.

Maggie verwelkom enige hulp van mense of organisasies om haar reis op pad na Mev Afrika te borg. Mense wat belangstel, kan vir Maggie by 073 1939 777 of me124578@gmail.com kontak.


Maggie Jasson is trots en geëerd om ’n finalis in die Mev Afrika-kompetisie te wees.