Trekos-kenner ontvang meestersgraad op 75

Belinda Bantham -- Wed, 06/14/2017 - 08:53

Trekos-kenner ontvang meestersgraad op 75

Hy het van kleins af aan die voete van die ou mense en kenners geleer hoe om met trekosse te werk, en vandag is hy een van enkele kundiges in die land hieroor.

Marius Oosthuysen het onlangs sy meestersgraad op 75-jarige ouderdom by die Noordwes-Universiteit (NWU) verwerf. Hy is die oudste student wat sy meestersgraad tydens die herfs-plegtigheid ontvang het.

Die titel van sy verhandeling, “Die Trekos en trektoerusting in Suid-Afrika: ʼn historiese perspektief”, is die pennevrug van al sy jare se kennis en ervaring wat hy opgedoen het.

Marius sê die doel van die verhandeling was juis om al sy kennis op te teken en dit op so ʼn wyse vir die nageslag te bewaar. Sy studieleier, prof Kobus du Pisani, het gesê hy het bitter min aan die verhandeling verander, want dit was duidelik dat Marius ʼn passie en ʼn ongelooflike goeie kennis van trekosse het. Sy medestudieleier was prof Matilda Burden van Stellenbosch Universiteit.

Hy boer tans in die Oos-Kaap naby Alexandria en is al vir 52 jaar getroud met Hester wat hy op skool in Kirkwood ontmoet het. Hy het sy voorgraadse studies (BSc) en BScHons aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi.

Marius sê het van kleins af gesien en geleer hoe om met trekosse te werk. Sy ander stokperdjie, om velle te verwerk as rieme vir die trekosse, was ʼn natuurlike uitvloeisel van hierdie belangstelling.

Sy twee dogters, Sanderi Oosthuysen en Marie Roodt, het ook sy gradeplegtigheid bygewoon, saam met drie van sy kleinkinders. Die jongste, Tarien, is tans ʼn eerstejaar-dieetkundestudent aan die NWU se kampus in Potchefstroom, terwyl die ander twee reeds hul grade by die NWU verwerf het. Benn Roodt is tans ʼn apteker op Moorreesburg en Sreandi Bronn ʼn bedryfsielkundige in Port Elizabeth.

Marie het gesê haar pa het sy studies in 2011 aangepak toe Sreandi en Bennie eerstejaarstudente by die NWU was, en het nou sy graad in die jaar wat die jongste kleinkind, Tarien, ʼn eerstejaarstudent is, ontvang.

Prof Fika Janse van Rensburg, waarnemende rektor van die NWU se kampus in Potchefstroom, Marius Oosthuysen, meestersgraadstudent en prof Kobus du Pisani, sy studieleier.

Marius Oosthuysen saam met sy gesin wat sy gradeplegtigheid in Potchefstroom bygewoon het. Van links is prof Fika Janse van Rensburg, waarnemende kampusrektor, prof Kobus du Pisani, studieleier, Hester Oosthuysen, eggenoot, Marius, Sanderi Oosthuysen, dogter, Marie Roodt, dogter, Bennie