TRADE bied spesiale lesing oor betrekkinge tussen die VSA en Suid-Afrika aan

Belinda Bantham -- Mon, 09/02/2019 - 11:28

TRADE bied spesiale lesing oor betrekkinge tussen die VSA en Suid-Afrika aan

Die TRADE-navorsingsentiteit het op 29 Augustus ’n spesiale lesing deur die handels- en beleggingsbeampte van die Amerikaanse ambassade op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Potchefstroom aangebied.

Mnr Juan Cammarano, handels- en beleggingsbeampte van die VSA se ambassade, het oor die handelsbetrekkinge tussen die Verenigde State van Amerika en Suid-Afrika gepraat. Hy het gefokus op die handelsooreenkoms ten opsigte van die African Growth and Opportunity Act (AGOA), wat Suid-Afrika insluit.

Hy het aangedui dat die VSA oop is vir handel, ongeag die huidige handelsoorlog tussen die VSA en China. Mnr Cammarano sê dat die VSA se handelsbeleid ten gunste is van ’n gelyke speelveld vir alle lande om handel te dryf.

In 2018 was Suid-Afrika die topverskaffer van goedere uit Afrika suid van die Sahara aan die VSA, en Suid-Afrika is vir ongeveer een-derde van die uitvoere uit die streek na die VSA verantwoordelik. Uitvoere na die VSA het in 2018 met 10% gegroei, en die uitvoere uit Suid-Afrika na die VSA het die invoere uit die VSA met baie naby aan VS$3 miljard oorskry.

Die AGOA-ooreenkoms se einddatum is 2025, en dit is nie ’n uitgemaakte saak dat die ooreenkoms verleng gaan word nie. Vir Afrika-lande om te kwalifiseer om by die ooreenkoms ingesluit te word, moet hulle aan sekere kriteria voldoen. Hulle moet byvoorbeeld ’n markgebaseerde ekonomie hê, die oppergesag van die reg erken, korrupsie en omkopery beveg.

Volgens mnr Cammarano het die VSA steeds ’n positiewe siening van Suid-Afrika, ten spyte van sekere beleidsverklarings wat in stryd is met die VSA se beleid, en handel tussen die twee lande sal voortgaan.

 Teenwoordig by die spesiale lesing was prof Danie Meyer, direkteur van TRADE, mnr Juan Cammarano, handels- en beleggingsbeampte van die VSA se ambassade, prof Wilma Viviers, Wêreldhandelsorganisasie-leerstoel en lid van TRADE, mnr Francois Fouché, TRADE-adviseur, en me Pamela Cheuka van die VSA se ambassade.