Tito Mboweni is ʼn stap in die regte rigting vir SA se ekonomie

Belinda Bantham -- Wed, 10/10/2018 - 11:41

Tito Mboweni is ʼn stap in die regte rigting vir SA se ekonomie

Die aanstelling van Tito Mboweni as nuwe Minister van Finansies is ’n gerusstellende stap vir die ekonomie wat vertroue bou.


So sê prof Raymond Parsons, bekende ekonoom aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool.

“Die vervanging van uittredende Minister van Finansies Nene deur die voormalige President van die Suid-Afrikaanse Reserwebank en Minister van Arbeid, Tito Mboweni, help om stabiliteit en konsekwentheid in beleidsrigting te verseker, veral met die mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring op 24 Oktober voorhande,” sê hy. 

“Die kwesbare stand van Suid-Afrika se openbare finansies sal steeds ’n ferm hand by die Nasionale Tesourie nodig hê om fiskale konsolidasie te implementeer.” 
Prof Parsons sê die jongste verandering aan die leierskap van die Nasionale Tesourie kom veral op ’n tyd wanneer beleidsonsekerheid steeds negatief is, en planne, beleide en nuwe inisiatiewe om ekonomiese herstel en hervorming te bevorder uiters geloofwaardig moet wees. 

Hy sê die vermindering van beleidsonsekerheid en die verbetering van beleggervertroue is steeds hoë prioriteite. 
“Mnr Mboweni het die nodige integriteit, vaardighede en ervaring om vertroue in die markte, onder beleggers en oor die algemeen in die sakegemeenskap te skep.”