Times Higher Education plaas NWU 5de op die ranglys in Suid-Afrika

Marelize Santana -- Wed, 09/11/2019 - 15:46

Times Higher Education plaas NWU 5de op die ranglys in Suid-Afrika

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het vir die eerste keer deelgeneem aan die Times Higher Education (THE) se graderings van universiteite regoor die wêreld, en het die vyfde plek in Suid-Afrika behaal. Ons is wêreldwyd tussen 501 tot 600 geplaas uit die 1 396 universiteite wat vir die 2020-graderings geëvalueer is.

Die THE se ranglys vir universiteite van die wêreld is die enigste wêreldwye prestasietabelle wat navorsingsintensiewe universiteite regoor al hulle kernmissies beoordeel, naamlik vir onderrig, navorsing, kennisoordrag en internasionale profiel. THE gebruik 13 noukeurig-gekalibreerde prestasieaanwysers om die omvattendste en mees gebalanseerde vergelykings te verskaf wat deur studente, akademici, universiteitsleiers, die bedryf en regerings vertrou word.

Die prestasieaanwysers word in vyf gebiede gegroepeer:  Onderrig (die leeromgewing); navorsing (volume, inkomste en reputasie); aanhalings (navorsingsinvloed); internasionale profiel (personeel, studente en navorsing); en bedryfsinkomste (kennisoordrag).

Die NWU het die beste gevaar op die gebied van aanhalings, waar ons in die 375ste plek was. THE se navorsingsinvloedaanwyser kyk na universiteite se rol in die verspreiding van nuwe kennis en idees. Dit ondersoek navorsingsinvloed deur die gemiddelde aantal keer op te teken wat ’n universiteit se gepubliseerde werk deur vakkundiges wêreldwyd aangehaal word.

Die aanhalings wys hoeveel elke universiteit tot die totaal van menslike kennis bydra. Dit is dus ’n aanwyser dat die waarde van ons navorsing deur die wêreldwye vakkundige gemeenskap erken word.

Hierdie aankondiging het gekom ’n maand nadat die Center for World University Rankings (CWUR) aangedui het dat die NWU inderdaad in rangorde gestyg het onder die universiteite wat op die wêreldranglys verskyn. Die NWU het sy CWUR-gradering met amper 100 plekke verbeter en van die 964ste posisie na nommer 869 opgeskuif, wat onder die boonste 4,8% val van die meer as 18 000 universiteite wêreldwyd wat geëvalueer is. Die NWU is sewende ten opsigte van die CWUR se gradering van Suid-Afrikaanse universiteite geplaas.

 “Hoewel die gradering nie die doelwit is wat ons wil najaag nie, is die feit dat ons verbeter het net ’n bevestiging dat ons vordering maak op ons pad om ’n internasionaal-erkende universiteit in Afrika te wees wat bekend is vir betrokke wetenskapsbeoefening, maatskaplike responsiwiteit en ’n sorgsaamheidsetiek,” sê prof Dan Kgwadi, visekanselier.

Die visekanselier het al die personeel bedank vir hulle bydrae om te verseker dat ons aan ons doel beantwoord om uit te styg ten opsigte van innoverende onderrig-leer en baanbrekernavorsing wat tot voordeel van die samelewing is.