Tim en sy taak by vrouerugby

Belinda Bantham -- Tue, 11/14/2017 - 09:38

Tim en sy taak by vrouerugby

Hy glo in die eteriese en dat oortuigings alle aardse beperkings oortref. Hy blaai dikwels in sy Bybel na Hebreërs 11 vers 1, want dis daar dat hy die leuse kry waarvolgens hy lewe. “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” Dit is die kompas wat Timothy Qumbu se koers rig.

Hierdie 30-jarige voormalige Vrystater – hy het aan die Hoërskool Sasolburg gematrikuleer, sy BTech by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie voltooi en sy BA in menslike bewegingskunde by die Universiteit van die Vrystaat verwerf – is in ’n joviale bui.

En geen wonder nie. Timothy het onlangs teruggekeer van ’n baie geslaagde reis na die Verenigde Koninkryk (VK) waar hy die krag- en kondisioneringsafrigter van die Suid-Afrikaanse Vroue XV-span was.

“Dit was wonderlik!” roep hy uit. “Soos dit maar met die VK die geval is, was die weer nie altyd sonnig nie; daar was baie misreën en wolke, maar die temperatuur was heerlik. Die meisies het sedert 2014 nie internasionale rugby gespeel nie en die span het net ongeveer ’n week-en-’n-half gehad om voor te berei, dus was ons verwagtings nie baie hoog nie.”

Dit was egter heeltemal onnodig. Die span het een en almal met hul onstuitbare spel beïndruk. Op 14 Oktober het hulle die Britse Leër 27-5 geklop – die grootste opskudding sedert Isandlwana. Hulle het vier dae later die Engeland Akademie in Aldershot aangepak, met die gashere wat met ’n aantal internasionale Engelse spelers wat in Augustus in die Vroue Rugby Wêreldbeker gespeel het, gespog het. Die spanne was met rustyd 12-12 gelykop, waarna die Akademie 48-12 gewen het. Die finale wedstryd op die toer was op Sondag 22 Oktober teen dieselfde span, en die Suid-Afrikaners het naelskraap 15-12 verloor as gevolg van ’n strafskop aan die einde van die wedstryd.

“Daar was soveel goeie aspekte tydens die toer en ek is absoluut oortuig daarvan dat ons vroue-vyftiental se spel net gaan verbeter. Ons het ons opposisie fisies oorheers; trouens ons het hulle na softies laat lyk,” lag Timothy. “Ons moet net meer op ons vaardighede en fiksheid konsentreer. Ek weet dat ons eendag die beste span in die wêreld kan word.”

Wanneer Timothy – of Tim soos hy homself noem – nie langs die rugbyveld is nie, is hy ’n dosent aan die Skool vir Biokinetika, Rekreasie en Sportwetenskap in die NWU se Fakulteit Gesondheidswetenskappe. Sy vrou van die afgelope twee jaar, Bronwen, is ’n dosent aan die Fakulteit Regte op die kampus in Potchefstroom.

“Ek voel só geseënd dat ekhier by die universiteit kan werk,” sê hy trots.

Tim is ook ’n kranige gholfspeler en het dié sport drie jaar gelede begin beoefen. “Ek wens ek het die spel vroeër in my lewe ontdek. Daar is baie minder stampe en stote en blou kolle as in rugby.”

Hy sal weet. As rugbyspeler was Tim ’n belowende heelagter met vlerke aan sy voete, maar op o/19-vlak het hy sy voorste en agterste kruisligament en mediale kollaterale ligamente van sy knie geskeur. Behoorlike rehabilitasiesorg het nie plaasgevind nie en dit was die einde van sy rugbyloopbaan. Soort van...

“Ek het nog altyd daarvan gedroom om vir die Springbokke te speel, en nou is my droom om die Springbokke se sportwetenskaplike te wees. Ek wil steeds daar wees, net in ’n ander hoedanigheid. Ek glo dat God ’n plan vir ons almal het. Hy toets ons, maar Hy lei ons ook. Ek vertrou op Hom.” Vandaar Hebreërs 11:1.

Tim beskryf homself as diep godsdienstig en sy betrokkenheid by sy kerk asook by die kerk se jeugprogram (“Ek hou daarvan om iets aan die jeug terug te gee”) is een van sy lewe se groot passies.

En dan is daar rugby. “Ek waardeer die kameraderie van rugby die meeste, en ek is mal oor die diversiteit. Daar is plek vir almal in ’n rugbyspan, van die grootste tot die maerste. Daar is plek vir 15 verskillende liggaamstipes, en dit is uniek aan rugby.”

 

 Timothy Qumbu, krag- en kondisioneringsafrigter van die Suid-Afrikaanse Vroue XV-span, saam met prof Fika Janse van Rensburg, adjunk-visekanselier van die NWU se kampus in Potchefstroom.