#ThusaNgwanaGeno gee iets terug

Belinda Bantham -- Fri, 04/05/2019 - 12:19

#ThusaNgwanaGeno gee iets terug

John Molepo, dosent aan die Skool vir Regeringstudies van die Noordwes-Universiteit (NWU), doen dit weer.

John en ’n aantal vrywilligers het in Desember verlede jaar en Januarie vanjaar geld by verskeie kruisings in Potchefstroom en Pretoria ingesamel.

Dié geld is vir sy jaarlikse #ThusaNgwanaGeno-veldtog, wat universiteitstudente wat uit minderbevoorregte agtergronde kom, help om hulle registrasiegeld, skryfbehoeftes en handboeke te betaal.

 “In die twee maande wat hulle geld ingesamel het, is meer as R70 000 bymekaargemaak,” sê John. #ThusaNgwanaGeno het daarin geslaag om vyf studente aan die NWU, asook ’n aantal studente van ander universiteite, te help.

Thabo Nambane, ’n eerstejaar-regstudent op die NWU se kampus in Potchefstroom, is een van die vyf studente aan die NWU wat hierdie jaar befondsing van die #ThusaNgwanaGeno-veldtog ontvang het. “Ek studeer tans sonder ’n beurs, dus het John en sy veldtog my werklik gehelp,” sê Thabo.

 “Die geld wat ek ontvang het, het my gehelp om handboeke, asook ’n paar ander noodsaaklikhede, te koop.” Hy voeg by dat hy besonder dankbaar is vir die hulp wat hy ontvang het en dat hy hoop dat hy eendag geseënd genoeg sal wees om iets vir die projek terug te gee.

Nico Ngubene, ’n eerstejaar- BA Kunste-student, het ook hulp met sy registrasiegeld ontvang en sê dat hy die befondsing wat hy ontvang het baie waardeer, aangesien dit hom sal help om op die ou einde sy lewe te verander.

 “Ek wil graag almal bedank wat ’n bydrae tot die veldtog gemaak het, en ek sien uit daarna om te sien dat studente wat uit #ThusaNgwanaGeno voordeel getrek het nog groot hoogtes bereik,” sê John.  

 John Molepo