Tekort aan behuising vir NWU-studente word hanteer

Marelize Santana -- Wed, 07/29/2020 - 15:57

Tekort aan behuising vir NWU-studente word hanteer

Die Noordwes-Universiteit (NWU) laat nie toe dat die Covid-19-pandemie inmeng met sy voorneme om studenteverblyf te hanteer nie. Werk aan koshuise met honderde beddens is aan die gang.

Die universiteit het onlangs ’n terrein aan suksesvolle kontrakteurs oorgegee en hulle ingelig wat van hulle verwag word met die aanvang van ’n twee jaar lange bouprojek vir ’n 1 728-bed-gerief op sy Mahikengkampus
.
“Dit is die grootste projek in die geskiedenis van die universiteit, dus wil ons seker maak dat ons by die program hou en die projek betyds aflewer, sê die NWU se kontrakbestuurder en hoofagent Retha Kooij-Kok.

Volgens Retha gaan die NWU kwessies soos gehalte fyn dophou en deur gereelde inspeksies seker maak dat vakmanskap van ’n topgehalte gehandhaaf word, terwyl hulle ’n oog sal hou op die fondse vir die projek om te verhoed dat oorbesteding plaasvind.

Die NWU se behuisingsprojek vir Mahikeng-studente sal bestaan uit ses studentekoshuiseenhede met huisies vir wagte en ontspanningsareas.

Die NWU akkrediteer tans afkampusverblyfverskaffers om te verseker dat daar geskikte huisvesting vir sy studente is. Die instelling sê dat hulle sal voortgaan om dit te doen, aangesien die behoefte aan studenteverblyf baie groot is.

“Die Noordwes-Universiteit, in vennootskap met die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO), het die afgelope vyf jaar die behoefte aan bykomende studentebehuising in Mahikeng geïdentifiseer. Ons is bly om te bevestig dat die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie, dr Blade Nzimande, op 30 Junie 2020 die voortsetting van hierdie R463 miljoen-projek formeel goedgekeur het,” het die NWU in ’n verklaring gesê. Die NWU sê dat hulle ook steeds dankbaar is vir die befondsing wat deur die IEG-toekenning, die Nasionale Tesourie se BFI-toekenning, en ’n DBSA-lening verskaf word.

Intussen sê die NWU se Mahikeng-studenteleierskap dat hulle uiters dankbaar is vir hierdie projek. “Die projek sal studente help om behoorlike huisvesting op kampus te hê, wat aan hulle ’n goeie geleentheid sal gee om in hulle studies uit te blink. Studente sal die universiteitsgeriewe optimaal kan benut. Die meeste studente wil op die kampus woon, maar dit was nie moontlik nie omdat daar ’n tekort aan beddens op die kampus is. Hierdie huisvesting sal ook die kwessie van die studente se veiligheid en sekuriteit hanteer, wat onlangs ’n groot uitdaging was, sê die SKR-voorsitter, Theo Seepamore.

Die amptelike sooispitseremonie is geskeduleer om binnekort op die Mahikengkampus plaas te vind.

Luister na die klankgreep.