Suksesvolle implementering van beleide en projekte is SONA se belangrikste toets

Belinda Bantham -- Fri, 02/08/2019 - 13:14

Suksesvolle implementering van beleide en projekte is SONA se belangrikste toets

Die uitgebreide staatsrede (SONA) wat president Cyril Ramaphosa op 7 Februarie 2018 in die parlement gelewer is, het erken hoe belangrik dit is om groter en inklusiewe ekonomiese groei tesame met strukturele hervormings te bevorder indien Suid-Afrika ’n groter, sterker en beter ekonomie wil skep.

Só sê die bekende ekonoom prof Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool.

“Die belangrike verwysings in die SONA na maniere om dit makliker te maak om in Suid-Afrika sake te doen, beleidsonsekerheid te verminder en beperkings op beleggers te verwyder, word dus verwelkom,” sê hy.

“Dit is noodsaaklike vereistes indien Suid-Afrika ’n voorkeurbeleggingsbestemming wil wees.”

Volgens prof Parsons bly die uitdaging om vertroue te herbou, nietemin die doeltreffende implementering van beleide en projekte en die skep van die nodige staatskapasiteit om dit te bewerkstellig – in samewerking met die privaat sektor waar nodig.

Hy sê Suid-Afrika sal sy ekonomiese spel dramaties moet verbeter as die groei- en indiensnemingsteikens wat in die SONA uiteengesit word, bereik en die uitdagings van werkloosheid, armoede en ongelykheid beter hanteer moet word. “’Ons moet die ekonomie weer aan die werk kry’ is net die aanvanklike vertrekpunt op pad na ’n beter ekonomiese bedeling.”

Prof Parsons sê die herstel van Eskom was om verstaanbare redes ’n “groot kwessie” in die SONA-rede, wat met reg na die Eskom-situasie verwys het as ’n “krisissituasie” wat dringend aandag verg om beleggervertroue te bevorder.

“Die beoogde maatreëls wat in die SONA aangekondig is om Eskom te herfinansier en herstruktureer, is stappe in die regte rigting, maar verdere besonderhede is nodig om te kyk hoe suksesvol hulle uiteindelik sal wees om Eskom te stabiliseer,” voeg hy by.

“Die jongste SONA bevestig dat Suid-Afrika se politieke ekonomie kompleks bly. Teen ’n agtergrond van gedempte ekonomiese groei en die dinamiek van die komende verkiesing op 8 Mei, is daar onvermydelik baie onafgehandelde besigheid op die land se nasionale agenda. Dit strek van die komende begroting tot die uitkoms van die grondhervormingsproses, wat hierdie jaar bronne van voortgesette beleidsonsekerheid kan wees.”

“Dit lyk dus waarskynlik dat die Suid-Afrikaanse ekonomie – hoewel dit in ’n herstelmodus is – basies vir die grootste deel van 2019 die pas sal markeer totdat sekere politieke en ekonomiese kwessies uit die weg geruim of tendense duideliker word.”