Sukses van Tesourie se jongste groeiplan hang van praktiese implementering en samewerking af

Belinda Bantham -- Thu, 08/29/2019 - 11:43

Sukses van Tesourie se jongste groeiplan hang van praktiese implementering en samewerking af 

“Die sukses van die Nasionale Tesourie se groeiplan sal afhang van die praktiese implementering en die samewerking van sleutelbelanghebbers.”

So sê prof Raymond Parsons, bekende ekonoom en akademikus van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool.

Hy sê die Tesourie se groeiplan van 77 bladsye, wat nou vir kommentaar gepubliseer is, bied wye, konstruktiewe en vrugbare maniere vir Suid-Afrika om sin te maak van sy huidige ekonomiese krankheid, en stel verskeie verstandige beleide en projekte voor wat dringend nodig is om die ekonomie om te keer. 
“Suid-Afrika het ’n kritieke kruispad bereik met betrekking tot die doelwit van gedeelde voorspoed.

Deur ekonomiese transformasie, inklusiewe groei en mededingendheid te prioritiseer, beklemtoon die plan weer eens die mate waartoe fundamentele ekonomiese hervormings noodsaaklik is om die uitdagings van werkloosheid, armoede en ongelykheid te oorkom,” voeg hy by.
“Met die Nasionale Ontwikkelingsplan as agtergrond, beklemtoon die Tesourie se groeiplan die mate waartoe die land se swak ekonomiese prestasie grootliks die gevolg is van binnelandse beperkings en strukturele rigiditeite wat besighede se gewilligheid laat verswak het om in Suid-Afrika te belê.” 
Volgens prof Parsons erken die groeiplan die behoefte om beleidsonsekerheid te verminder en ’n oorkoepelende ondersteunende besigheidsomgewing te skep – veral vir KMMO’s – sodat Suid-Afrika met sukses die nodige beleggings- en ekonomiese groei kan verseker. Hy sê ’n ligter regulatoriese raamwerk is ’n belangrike dimensie van die algemene benadering. 

“Hierdie algemeen-bekende maar noodsaaklike beleidsgebied vir Suid-Afrika word nou in breë trekke deur die Nasionale Tesourie se groeidokument onderskryf. Suid-Afrika moet nou op ’n vaste grondslag wegbeweeg van die opstel van planne na tasbare implementering op maniere wat beleggersvertroue sal aanmoedig en ook ’n sigbare verskil in die lewens van gewone burgers sal maak. 

Hy sê Suid-Afrika het hier ’n bekwame “leweringswyse” nodig as ’n sleutelmeganisme om positiewe uitkomste te verseker, en om sy “gemengde” ekonomie beter te laat werk – en dit gouer eerder as later. 
“Die sukses van enige groeiplan sal dus weer afhang van die konsekwente en doeltreffende implementering daarvan in samewerking met sleutelbelanghebbers. Die omvang van die uitdaging word weerspieël in die feit dat, selfs met die gunstigste veronderstellings, die groeiplan se scenario’s Suid-Afrika se groeikoers oor die volgende dekade slegs vanaf 0,8% tot 2,3% sal laat styg. Suid-Afrika moet nietemin probeer om dit as ’n groot deurlopende uitdaging te beskou om beter as hierdie scenario’s te vaar.” 

Prof Parsons sê selfs hierdie relatief matige ekonomiese prestasieverwagtings sal egter die nodige politieke wil vereis om die moeilike besluite te neem wat nog nodig is, soos met die herstrukturering van ondernemings in staatsbesit, die stabilisering van Suid-Afrika se openbare finansies, en die hervorming van die arbeidsmark. 

Hy sê die plan se raamwerk bevestig dat daar geen kitsoplossing vir Suid-Afrika se sosio-ekonomiese uitdagings is nie, maar dit dring nietemin met reg daarop aan dat die grondslag vir ’n hoër groeitrajek nou gelê moet word om later tasbare voordele te lewer. 

“Suid-Afrika moet dus dringend ’n nasionale ekonomiese doelwit daarstel. Op ’n praktiese vlak vereis die potensiaal van die Tesourie se groeiplan om vertroue in te boesem dus vroeë bewyse van ’n verbintenis, ’n koersvastheid en die deurlopende implementering van sy sleutelstrategieë. Dit moet byvoorbeeld in die komende mediumtermyn-begrotingbeleidsverklaring in Oktober ingesluit word, en by die volgende presidensiële beleggingsberaad in November herhaal word.