Suid-Afrika se transformerende hoër onderwys

Marelize Santana -- Mon, 02/05/2018 - 09:57

Suid-Afrika se transformerende hoër onderwys

Dekolonisasie en die transformasie van onderwys is al vir die afgelope paar jaar ’n onderwerp wat druk binne die Suid-Afrikaanse hoëronderwyssektor bespreek word.

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs vir prof Crain Soudien, HUB van die Raad Vir Geesteswetenskaplike Navorsing, uitgenooi om ’n diepgaande openbare lesing te gee oor “Die lang oorgang in Suid-Afrikaanse hoër onderwys: struikelblokke rondom transformasie”.

Prof Soudien het in sy lesing ’n aantal belangrike kwessies aangeraak. Dit sluit in die post-apartheidnalatenskap, die vorm van die huidige stelsel, die uitdaging ten opsigte van transformasie, en die toekoms van die Suid-Afrikaanse universiteit.

Verstaan die verandering van onderwys
Volgens prof Soudien kan hoër onderwys wêreldwyd volgens drie fases gekategoriseer word, naamlik die elite, hoër onderwys vir die massas, en universele toegang. “Suid-Afrika kom uit die elite-fase en is besig om oor te beweeg na ’n onderwysstelsel vir die massas. Hierdie verskuwing is die gevolg van groot sosiologiese veranderinge wat ná 1994 in die land plaasgevind het,” sê prof Soudien.

Hy sê daar het sedert 1994 ’n geweldige verskuiwing in die land plaasgevind, met ’n baie groot toename in die swart middelklas. Hierdie middelklas is egter steeds broos. Een van die belangrikste eienskappe van dié middelklas is hul verbintenis tot beter onderwys vir hulle kinders. Statistiek toon dat hulle die meeste van hul uitgawes aan onderwys spandeer. Mense uit die middelklas stuur hulle kinders na voormalige model C-skole en universiteite, dikwels met groot opofferings.

Meer werk is nodig op die pad vorentoe
Prof Soudien het ook beklemtoon dat universiteite nie genoeg weet oor die ervaring van hierdie nuwe middelklas wanneer hulle die universiteit betree nie. Hy het voorgestel dat meer werk gedoen word om hierdie ervaring te verstaan. In hierdie ervaring is daar ’n groot kompleksiteit, insluitende die pyn van rassisme uit die verlede en huidige gevoelens dat hulle nie by die universiteit ingesluit word nie. Begrip vir hierdie kompleksiteit sal universiteite help om die verlede te hanteer en uit te werk hoe om ’n toekoms te bou.

“Universiteite moet maniere vind om menslike bemagtiging te bestuur, weg te beweeg van ontmagtiging, en oplossings te kry om woede en depressie te hanteer. Dit sal hulle help om ’n nuwe rigting in te slaan,” het prof Soudien afgesluit.


Prof Refilwe Phaswana-Mafuya, die NWU se adjunk-visekanselier vir navorsing en innovasie, prof Crain Soudien, en prof Dan Kgwadi, die NWU se visekanselier.