Stanford nooi briljante PhD-student vir ’n meestersklas

Belinda Bantham -- Wed, 09/12/2018 - 09:45

Stanford nooi briljante PhD-student vir ’n meestersklas

’n PhD-student van die Noordwes-Universiteit (NWU) en meestersgraad-alumnus van die Sentrum vir Bedryfswiskunde en Informatika (BMI), is vir die PhD-meestersklas oor geldbestuur aan die Stanford Universiteit in Amerika aanvaar.

Simon du Plooy sal ’n driedagwerkswinkel bywoon wat op 12 November begin.

Simon se twee studieleiers vir sy PhD is prof Riaan de Jongh (NWU) en prof Tertius de Wet (buitengewone professor by die NWU en afgetrede professor van die Universiteit Stellenbosch), met insette wat deur prof Hennie Venter (ereprofessor by die NWU) gelewer is.

Volgens prof De Jongh is Simon ’n uitmuntende student met ’n proaktiewe denkwyse. “Die feit dat hy uit talle ander baie sterk aansoekers van regoor die wêreld gekies is, is ’n pluimpie vir Simon, BMI, die NWU en Suid-Afrika.”

Simon het in 2002 ’n BSc in bedryfswiskunde en informatika (cum laude), en in 2004 ’n MSc in finansiële wiskunde verwerf. Sy navorsingsbelangstellings sluit risikogebaseerde belegging, risiko-ontbinding en kwantiele regressie in.

Simon het meer as 13 jaar ervaring in finansiële markte en het in die bankwese sowel as in die batebestuursbedryf gewerk. Hy het in 2009 by Corion Capital aangesluit en is tans ’n portefeuljebestuurder vir die maatskappy se multistrategiefondse en bestuur tradisionele sowel as alternatiewe portefeuljes. Sy verantwoordelikhede sluit batetoewysing, bestuurderseleksie en risikobestuur in.

 Simon du Plooy.