Staatsrede: Positiewe impak van beleidsraamwerk sal van suksesvolle implementering en samewerking met privaat sektor afhang

Marelize Santana -- Fri, 02/14/2020 - 08:20

Staatsrede: Positiewe impak van beleidsraamwerk sal van suksesvolle implementering en samewerking met privaat sektor afhang

“Die omvattende staatsrede wat president Cyril Ramaphosa in die Parlement gelewer het, het die ernstige sosio-ekonomiese uitdagings erken wat Suid-Afrika tans in die gesig staar – veral die lae groei en hoë werkloosheidsyfer.”

So sê prof Raymond Parsons, ʼn bekende ekonoom en akademikus van die Noordwes-Universiteit (NWU) Besigheidskool.

“Die staatsrede het die breë raamwerk van die regering uiteengesit om hierdie uitdagings te hanteer, gekoppel aan sekere spesifieke besluite. Die klem in die staatsrede op inklusiewe groei en die behoefte om die hindernisse vir strukturele ekonomiese hervorming dringend te verwyder, word verwelkom. Die staatsrede het ook erkenning gegee aan die belangrikheid van samewerking met die privaat sektor om werk-ryke groei te bevorder.”

Prof Parsons sê positiewe aspekte van die staatsrede het ingesluit die stappe wat op die energiefront aangekondig is, en maatreëls om die indiensneming van jongmense aan te moedig.

“Die besluit om die opwekking van energie buite Eskom toe te laat, veral deur goedbestuurde munisipaliteite, is ’n belangrike stap in die regte rigting. Dit bly noodsaaklik om die risiko te verminder wat Eskom steeds vir Suid-Afrika se ekonomiese prestasie inhou,” sê hy.
“Ander aankondigings in die staatsrede verg meer besonderhede en verduideliking. Die mate waartoe die staatsrede beleidsonsekerheid kan verminder en beleggervertroue kan verbeter, sal afhang daarvan of die gevoel van onmiddellikheid wat deur die staatsrede geskep is, in positiewe aksie en tasbare uitkomste omskep word.”

Hy sê dat, ongeag hoe belangrik die staatsrede is om die algehele ekonomiese en politieke rigting aan te dui, moet verwysings in die staatsrede na kwessies soos die skep van ’n soewereine welvaartfonds, die finansiering van Eskom, die inkorting van die salarisrekening van die openbare sektor, en die stigting van ’n staatsbank vir verdere uitklaring in die begroting op 26 Februarie wag.

“Die fiskale rekeningkunde in die begroting sal ook toon of Suid-Afrika werklik sy openbare finansies stabiliseer, hulppakkette aan wanfunksionele ondernemings in staatsbesit verminder, en sy algehele skuld afskaal. Dit is die begroting van 2020-21 wat deur Moody’s geëvalueer sal word om te besluit of Suid-Afrika se beleggingsgradering verlaag moet word, wat tot die waarskynlikheid van universele rommelstatus vir Suid-Afrika sal lei.”