Staan pa vir ’n kind, staan pa vir ’n volk

Anjonet Jordaan -- Thu, 12/11/2014 - 13:16

Staan pa vir ’n kind, staan pa vir ’n volk

Die Sielkunde Honneurs-studente in die Skool vir Gedragswetenskappe op die Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoekkampus het onlangs ’n prettige byeenkoms gehou ten ondersteuning van die Father a Nation- (FAN-) projek. Die byeenkoms was ’n viering vir kinders wat ’n werkswinkel bygewoon het wat deur die honneursgroep aangebied is.

 

Oor FAN

FAN is passievol oor die lewensbelangrike rol wat mans in die samelewing speel. Hulle missie is om mans te inspireer om die beste mans en vaders te wees wat moontlik is. Hulle bied ’n aantal transformasieprogramme aan om mans te herstel, op te lei en toe te rus op hulle pad om hulle rol in die samelewing te vervul. Die Vaaldriehoekkampus werk met FAN saam.

FAN het die NWU genader en ’n vennootskap met hulle voorgestel om nóú met kinders saam te werk, aangesien die kinders die toekomstige vaders en die leiers van môre is. Die Universiteit sal vir ’n tydperk van vyf jaar as vennote saam met FAN werk.

Die viering was gemik op die oorhandiging van sertifikate aan die kinders, en het ook aan die kinders ’n verdere geleentheid verskaf om te speel en sorgvrye kinders te wees wat kan speel en lag.

Maak dit moontlik

Om dit moontlik te maak, was moeilik. Die honneursstudente, saam met dr Karin van der Merwe van die Skool vir Gedragswetenskappe, het ’n paar uitdagings gehad toe hulle hierdie projek saamgestel het. Aanvanklik sou slegs kleuters betrek word, maar tot hulle verrassing het ’n klomp ander baie ouer kinders ook opgedaag. Die span moes dit so goed as moontlik hanteer. Nog ’n uitdaging was die aankomtyd. Die kinders het met openbare vervoer gekom en dit was nie betroubaar nie – hulle moes soms later begin as wat geskeduleer was.

Masego Leburu, ’n Sielkunde Honneurs-student, was baie trots daarop om met die kinders te kon werk: “Ek is besonder trots op die kinders met wie ons gewerk het; hulle het net aanhou kom, week na week, sonder om moeg te word. Ek is mal oor hulle deursettingsvermoë”. Dr Van der Merwe sê sy voel vervuld deur die glimlagte wat sy op daardie kinders se gesigte gesien het. Sy sê dat om ’n kind te hoor lag, baie verfrissend is.