Sportdeelname op skool – het ons die pad byster geraak?

Marelize Santana -- Tue, 11/26/2019 - 09:56

Sportdeelname op skool – het ons die pad byster geraak?

In hierdie meningstuk ondersoek prof JP Rossouw, ’n navorsingsgenoot en voormalige direkteur van die navorsingseenheid Onderwys en Menseregte in Diversiteit by die Noordwes-Universiteit (NWU), die samelewing se benadering tot sportdeelname in skole.

In internasionale sportrubrieke het twee Ierse kommentators onlangs hulle bes gedoen om die uitstekende prestasie van die Suid-Afrikaanse Springbokspan wat die Wêreldbeker gewen het, te diskrediteer.

Neil Francis en Ger Gilroy het na enige “bewyse” gesoek om die persepsie te skep dat SA Rugby aan ’n sogenaamde “opkikkerkultuur” ly. Die gevalle van Chiliboy Ralepelle en Aphiwe Dyanti, twee prominente spelers wat geskors is nadat hulle positief vir ongeoorloofde prestasiebevorderingsmiddels getoets is, word aangehaal.

In die uitgelatenheid ná die Wêreldbeker-oorwinning kan ’n mens hierdie aantygings as suur druiwe afmaak, maar ’n sterk waarskuwing verlede week van die HUB van die SA Instituut vir Dwelmvrye Sport, Khalid Galant, moet ernstig oorweeg word.

Die “doping”-verskynsel

Mnr Galant het spesifiek  party skole se hoë vlakke van verdraagsaamheid vir die gebruik van anaboliese steroïede en ander prestasiebevorderingsmiddels, algemeen bekend as “doping”, gekritiseer.

Hy kritiseer skoolhoofde, onderwysers en ouers wat die gebruik van opkikkers deur deelnemers aan skolesport oogluikend toelaat – ’n verskynsel wat regoor ’n verskeidenheid sportsoorte voorkom, waaronder rugby, atletiek, sokker en swem.

Hierdie waarskuwing stem ooreen met voormalige Springbok-rugbyspeler Stefan Terblanche se bekommernis oor skolerugby.  

“Ek het dikwels gevind dat as ek na die grootte van hierdie kinders kyk, ek besef dat die spel wat ek op skool begin speel het en waarvoor ek lief geword het, op so ’n manier verander het dat ek dit amper nie meer herken nie,” het hy gesê.  

Status vs afgeronde ontwikkeling

Soos mnr Galant dit stel, kan die klem wat op die wen van wedstryde geplaas word, ’n dilemma vir party skoolhoofde skep. As hulle erken dat daar ’n probleem ten opsigte van die gebruik van opkikkers by die skool is, kan die skool sy status en bemarkingsvoordeel as ’n voorste sportskool verloor.

Stefan se bekommernis is egter nie dat die skoolseuns groter word as gevolg van die inname van kreatien en ander aanvullings, en die gevolglike opbou van spiere en nadelige newe-effekte in hulle fisieke ontwikkeling nie. Sy grootste bekommernis is opvoedkundig van aard: die uitbuiting van skoolkinders tot voordeel van die effektiewe bemarking van hoogs kompeterende skole en die bevordering van provinsiale franchises.  

Die meegaande handel in sporttalent is ook ’n bekommernis, met skole wat spelers in verskillende sportkodes met behulp van beurse lok. In sommige provinsies is daar selfs ’n “venstertydperk” soortgelyk aan professionele sokker vir die koop van spelers.

As hulle by ’n skool met goeie geriewe en professionele afrigting inskryf, kan talentvolle kinders in talle gevalle waardevolle talentontwikkeling ontvang, en in ’n posisie geplaas word om ’n goeie kans op ’n nasionale of internasionale loopbaan te hê. Om uiteindelik op die hoogste vlak te presteer, is ’n noukeurig-beplande strategie noodsaaklik, wat behoorlike voeding, uitstekende afrigting en gefokusde liggaamsversorging insluit.   

Die onsportiewe ondersteuner

Hoewel sportdeelname potensieel ’n betekenisvolle opvoedkundige waarde het, kan ’n obsessie met sport en die beginsellose agente wat soms betrokke is en nie die beste belange van die kind op die hart dra nie, ongelukkig tot negatiewe gevolge vir die talentvolle kind lei.

Een baie sigbare voorbeeld van obsessionele gedrag in die skoolkonteks is dat sommige ouers en ander ondersteuners onbeskaamd hulle ondersteuning vir hulle kinders en “hulle” spanne wys, maar uiters onsportiewe gedrag openbaar. Dit is nie ongewoon om te hoor hoe ouers hul kinders aanmoedig om die “opponent van die veld af” te speel nie.

Internasionale navorsing het getoon dat talle ouers maak of hulle nie sportverwante en fisieke mishandeling deur afrigters in die naam van die “gehard maak” van die kind vir mededinging raaksien nie. Daarteenoor, en nogal ironies, is daar ’n teleurstellende gebrek aan ondersteuning en entoesiasme onder sommige ouers en skoolhoofde vir die verpligte Liggaamlike Opvoeding-program as deel van Lewensoriëntering in die skole.

Deur deel te neem aan hierdie program, wat daarop gemik is om lewenslange deelname aan oefening en die gepaardgaande gesondheidsvoordele te bevorder, word alle leerders, ongeag hul talent, aan sport en speletjies, fisieke fiksheid en ontspanningsaktiwiteite blootgestel.

’n Obsessie met sportprestasies het talle negatiewe gevolge. Hierdie voorvalle kan die opvoedkundige pogings van duisende toegewyde, professionele en goedgebalanseerde onderwysers, onderwyser-afrigters, professionele sportafrigters en skoolhoofde nietig maak.

Meer oor die kundige

Prof Rossouw is ’n professor in onderwysreg, en spesialiseer in navorsing oor sportreg in die onderwysopset. Hy is ’n voormalige gimnastiekafrigter en onderwyser en dosent in liggaamlike opvoeding.