Splinternuwe kwalifikasie in megatroniese ingenieurswese vir die NWU

Belinda Bantham -- Mon, 05/04/2020 - 13:36

Splinternuwe kwalifikasie in megatroniese ingenieurswese vir die NWU

Die Fakulteit Ingenieurswese by die Noordwes-Universiteit (NWU) kondig met trots aan dat ons ’n splinternuwe ingenieurskwalifikasie by ons bestaande reeks programme gaan voeg.

Die Baccalaureus-graad in Megatroniese Ingenieurswese is deur die Ingenieursraad van Suid-Afrika (IRSA) goedgekeur en sal gegradueerdes in staat stel om internasionaal op die wêreldtoneel mee te ding. Hierdie program gaan van 2021 af aangebied word.

Wat is megatroniese ingenieurswese?

Megatroniese ingenieurswese – ook megatronika genoem – is ’n multidissiplinêre tak van ingenieurswese wat fokus op die ontwerp en bou van elektriese asook meganiese stelsels, en sluit ’n kombinasie van robotika-, elektroniese, rekenaar-, telekommunikasie-, stelsels-, kontrole-, en produkingenieurswese in.

Namate tegnologie oor tyd heen ontwikkel, het verskeie subgebiede van ingenieurswese al daarin geslaag om aan te pas sowel as om te vermenigvuldig. Die bedoeling van megatronika is om ’n ontwerpoplossing te produseer wat elkeen van hierdie onderskeie subgebiede verenig. Die gebied van megatronika is aanvanklik bedoel om niks meer as ’n kombinasie van meganika en elektronika te wees nie, vandaar die naam, wat ’n samestelling van meganika en elektronika is. Namate die kompleksiteit van tegniese stelsels egter begin het om te ontwikkel, is die definisie uitgebrei om meer tegniese gebiede in te sluit.

Wat ons aanbied

By die NWU lewer ons gegradueerdes in ingenieurswese wat die wêreld verander. Die doel van ons megatronikaprogram is om hierdie ideaal te bevorder deur broodnodige vaardighede in die bedryfsoutomatiseringsruimte te verskaf. Ons program is uniek in dié sin dat dit studente in staat stel om te fokus op projekte in die gemeenskap wat mediese toestelle (soos intelligente prosteses) of produkte in die laekoste-agriverwerkingsgebied ontwikkel. Laasgenoemde is veral belangrik om ’n volhoubare moderne samelewing vir almal te verseker.

Ons geriewe en vennote

Ons samewerking met bedryfsvennote soos Siemens gee aan ons studente praktiese toegang tot moderne prosesbeheertoerusting in ’n splinternuwe bedryfoutomatiseringslaboratorium.  Die NWU is ook in die unieke posisie om gegradueerdes toe te rus met simulasiesagteware (Siemens NX en MCD) asook die kundigheid om ontwerpe virtueel te ontwerp en in werking te stel.

Daarbenewens stel die industriële outomatisasie opleidingsentrum (Industrial Automation Training Centre, IATC) in die fakulteit studente in staat om ’n aanvullende groep bedryfsertifikate teen ’n groot afslag te bekom. Dit verbeter die indiensneembaarheid van gegradueerdes baie.

Megatroniese ingenieurswese by die NWU gaan nie net oor elektronika, meting, kontrole, ingebedde stelsels en meganika nie. Dit is ’n holistiese benadering wat kundige vakkennis met die jongste tegnologie kombineer om probleme vir die hede en die jare wat voorlê, op te los.

Kyk na hierdie inligtingsvideo om meer oor die NWU se program in megatroniese ingenieurswese uit te vind: https://www.youtube.com/watch?v=1J8xYCmSgtI

As jy graag oor hierdie opwindende nuwe geleentheid navraag wil doen, kontak ons gerus by:

Prof George van Schoor

Skool vir Elektriese, Elektroniese en Rekenaaringenieurswese

Fakulteit Ingenieurswese

george.vanschoor@nwu.ac.za

Megatroniese laboratoriums

Siemens S7-1200 vervoerband afrigter