S&P se hersiene vooruitsig vir SA versterk die behoefte aan vinniger fiskale en strukturele hervorming

Marelize Santana -- Tue, 11/26/2019 - 09:49

S&P se hersiene vooruitsig vir SA versterk die behoefte aan vinniger fiskale en strukturele hervorming

“Die besluit van die graderingsagentskap Standard & Poor (S&P) om sy vooruitsig vir Suid-Afrika van stabiel tot negatief te verlaag is algemeen verwag, en die markte het in ’n groot mate reeds hulle pryse daarvolgens aangepas."

So sê prof Raymond Parsons, ʼn bekende ekonoom en akademikus van die Noordwes-Universiteit (NWU) Besigheidskool.

Prof Parsons sê S&P het Suid-Afrika reeds op rommelstatus, en sy evaluering stem ook ooreen met ’n soortgelyke besluit oor die vooruitsig vir Suid-Afrika deur Moody’s op 1 November. Hy sê die S&P-hersiening het die vinnig-verslegtende skuldverhoudings, swak groei en gebrek aan sterk hervormingsmaatreëls as deel van hulle vernaamste voortgesette bekommernisse oor die Suid-Afrikaanse ekonomie genoem.   

“S&-P se jongste evaluering versterk die dringende boodskap van die onlangse Mediumtermynbegroting-beleidsverklaring oor die haglike stand van Suid-Afrika se openbare finansies en die maatreëls wat nodig is om dit te stabiliseer, veral van staatsbeheerde ondernemings soos Eskom,” sê hy.

“S&P het beklemtoon dat, tensy die regering stappe doen om die fiskale tekort doeltreffend te bestuur en om volgehoue hervormingsmomentum te demonstreer, dit onwaarskynlik is dat die skuld selfs binne drie jaar sal stabiliseer. Die S&P-narratief moet dus vinniger fiskale en strukturele hervormings aanmoedig.”

Volgens prof Parsons sal dit nietemin Moody’s se besluit oor Suid-Afrika se beleggingsgradering in 2020 wees wat, ten spyte van S&P se waarskuwing, tussen Suid-Afrika en die moontlikheid van universele rommelstatus sal staan. Hy sê hierdie aangeleentheid behoort ’n dringende bekommernis te wees.

“Moody’s het reeds vir Suid-Afrika kennis gegee dat, tensy die ekonomie spoedig omgekeer word, hulle ook die land na rommelstatus sal afgradeer. Dit beklemtoon weer eens die belangrikheid van ’n geloofwaardige fiskale strategie in die volgende begroting in Februarie 2020 om ekonomiese persepsies van Suid-Afrika te verbeter.”